Paramedici aangehou en beroof

Ses paramedici van Johannesburg se nooddienste is met vuurwapens aangehou en van hulle besittings beroof terwyl hulle besig was om ‘n pasiënt in Jeppestown te behandel.

Hulle het gereageer op ‘n voorval van messtekery in die sentrale sakedeel van die stad en was besig om die pasiënt in ‘n ambulans te behandel toe hulle deur twee gewapende mans oorval is.

Die rowers het hulle beursies en selfone geëis, en het ook ‘n sak met mediese toerusting en ‘n tweerigting radio geroof. Die tweerigting radio het hulle in ‘n nabygeleë stuk veld aan die brand gesteek en het te voet gevlug.

Die paramedici is ongedeerd, maar die stadsraad sê daar is die afgelope tyd ‘n vlaag rooftogte waarin paramedici geteiken word terwyl hulle besig is met pasiënte.

Die stadsowerheid het die “barbaarse gedrag van misdadigers” veroordeel en lede van die publiek in Johannesburg gevra om noodpersoneel te beskerm terwyl hulle lewens red.