Ons rou saam oor die Westerse beskawing

Baie huil saam met Frankryk oor die pas afgelope terrorisme-aanval tydens die herdenking van Bastilledag in Nice. Om verskeie rede het ons empatie met die slagoffers, waaronder daar talle kinders is.

Ter plaatse het ons lank ‘n oorlog teen terrorisme gevoer en uiteindelik is die regering aan daardie terroriste oorhandig. Baie het in die stryd teen terrorisme geboet met hulle lewens en ander is verwond – fisies en/of psigies.

Dit is ironies en eintlik verskriklik tragies dat daar in die terroriste-wat-aan-bewind-gekom-het se geledere nou glo jag gemaak word op vermeende Islamitiese Staat (IS)-terroriste.

Daar is die afgelope dae groot gewag gemaak van vier verdagtes wat in klopjagte in hegtenis geneem is deur van die Suid-Afrikaanse polisie se spesialiseenhede. Twee van hulle is reeds aangekla in verband met terrorisme verwante aanklagte. Die ander twee is alreeds weer op borgtog vrygelaat.

Dit het egter nogal aansporing gekort om die plaaslike departement van staatsveiligheid sover te kry om te erken dat Suid-Afrika eintlik ook die teiken kan wees van terreuraanvalle.

In die hele proses het die hele saak amper weer heeltemal hande uitgeruk toe die betrokke departement en die departement van internasionale betrekkinge probeer het om die Amerikaanse ambassade in die bek te ruk. Desondanks het die Amerikaners volstaan met hulle veiligheidswaarskuwing teen moontlike terreuraanvalle in Suid-Afrika, veral in winkelsentrums.

Die ANC-regime het een van sy tipiese U-draaie gemaak en dadelik begin om aan te toon dat alles onder beheer is. Daar is niks te vrese nie. Die minister van staatsveiligheid, David Mahlobo, boesem natuurlik baie vertroue in – bloot net deur na hom te kyk.

Die Franse minister van binnelandse sake, Bernard Cazeneuve, het op ‘n mediakonferensie na die gebeure in Nice verwys na die “oorlog teen terrorisme” waarin Frankryk (Europa) gewikkel is.

Die aanvalle in Maart vanjaar in Brussel op die lughawe en ‘n treinstasie is immers nog vars in die geheue. En Frankryk self het skaars nog herstel van die Parys-aanvalle in November verlede jaar, waarin 130 mense omgekom het.

Hierdie “oorlog teen terrorisme” sny diep. Dit kan teruggespoor word na die liberale regerings wat die plaaslike terroriste gesteun het. In ‘n onlangse besoek aan Nederland en België het Steve Hofmeyr aan hulle gevra – hoekom het julle dit gedoen?

En oor dekades het hierdie liberale regerings onder die dekmantel van humanisme toegelaat dat vreemdelinge oor hulle grense stroom. Frankryk het die meeste van hierdie vreemdelinge in Europa. Frankryk, waar die Franse Rewolusie  gelykheid, vryheid en broederskap moes bring en die Bastille in daardie eerste dae van die rewolusie op 14 Julie 1789 bestorm is.

Sommige politici, veral in volksbehoudende kringe skop al vir jare teen hierdie toestroming van ‘asielsoekers’ en vreemdeling na hulle lande in Europa.

Maar dit is asof almal heeltemal meegesleur is deur humanisme en liberalisme ten koste van die volkseie en volksbehoud.

Die beste samevatting van hierdie verwoestingspad van ‘n beskawing kry ons in NP van Wyk Louw se epos, Raka, waar die stam deur hom oorwin word. Nadat hy die held, Koki, doodgemaak het, het die hek letterlik oopgelê. En niemand het die hek ooit weer durf sluit teen Raka nie. Net ‘n ou vrou het gerou oor Koki omdat sy alles onthou het wat eens was.

Ons rou in hierdie dae soos daardie ou vrou met ‘n diepe hartverskeurende onthou oor Frankryk, oor Europa, oor Suid-Afrika, oor die hele Westerse beskawing.