Onderstebo of agterstevoor

Die onsekerheid wat gewek word in Suid-Afrika oor wat uitgesaai gaan word en wat nie, laat twyfel ontstaan of alles onderstebo is en of dit dalk net heeltemal agterstevoor is – of kan dit dalk albei wees!

Die nasionale uitsaaier wil nie die geweld wat heers in die land, aan kykers vertoon nie, want dit sal ander aanmoedig om dieselfde te doen.

Die redenasie mag bes moontlik met goeie bedoelings wees, maar as die nasionale uitsaaier wil besluit wat goed is om vir kykers te wys, word hy ’n regeerder sonder mandaat.

Die wil voorkom asof hy voorgepraat word, of sommer deur die owerheid aangesê is om die geweld nie te vertoon nie, want dit maak skade aan die reeds verwronge beeld van hierdie Derdewêreldse land wat eens ’n Eerstewêreldse standaard gehandhaaf het.

Die ommeswaai nadat heldhaftig gesê is wat die Uitsaaier gaan uitsaai, en nie gaan doen wat die Uitsaaiowerheid beveel nie, het die bestuur en Raad van die SABC verspot laat lyk, veral toe die bestuur ’n week later ook sewe joernaliste moes heraanstel nadat hulle afgedank is.

Dit lyk asof alles by die Uitsaaier agterstevoor gedoen word, en dalk veroorsaak die optrede waarom sy geloofwaardigheid toenemend aan die afneem is.

Die bestuur van die SABC asook die Raad wat verantwoordelik gehou moet word vir die swak bestuurstyl en onderstebo benaderings laat die gaping vir ander uitsaaiers om ’n beter, en meer betroubare diens aan kykers te lewer.

Die Boere-Afrikaner het immers behoefte daaraan om ’n volksgerigte radio en televisie diens te kry wat in sy Moedertaal die boodskap van hoop sal dra.

Redakteur