MRK – Vra verskoning aan alle SA blankes

Die woordvoerder van die Ngwathe-munisipaliteit in die Vrystaat moet ‘n onvoorwaardelike verskoning aan alle blanke Suid-Afrikaners op Facebook plaas nadat hy teen hulle gediskrimineer en hul menswaardigheid geskend het.

Dié aanbeveling is deur die Menseregtekommissie (MRK) gedoen nadat Steve Naale op die amptelike webwerf van die munisipaliteit ‘n foto geplaas het van twee mense wat deur die Ku Klux Klan (KKK) in Amerika opgehang is. Hy het onderaan geskryf: “Tensy ons dit weer onder ‘n wit man se regering wil hê.”

Die MRK het aanbeveel dat Naale sy verskoning so gou moontlik op Facebook moet plaas.

Dit volg nadat ‘n Facebook-gebruiker in die Wes-Kaap, Elsie du Preez, in Februarie vanjaar ‘n klag by die MRK ingedien het nadat sy op Naale se inskrywing op die Facebook-blad van Ngwathe Online gesien het.

Die Ngwathe-munisipaliteit sluit die dorpe Viljoenskroon, Parys, Heilbron, Koppies, Frankfort, Vredefort, Sasolburg, Edenville, Deneysville en Oranjeville in.

Luidens Du Preez se klagte het Naale se plasing van die foto die boodskap oorgedra dat “alle wit mense in Suid-Afrika behoort gevrees te word”.

Volgens haar is die uitbeelding onwaar en kan dit mense opsweep om blankes seer te maak en hulle te haat.

Wat sake verder vererger, is dat hy in ‘n magsposisie by die munisipaliteit beklee, het sy voorts in haar klagte gemeld.

Naale het op sy beurt sy plasing verdedig en sy spyt daaroor uitgespreek. Hy het die versekering gegee dat dit nooit sy bedoeling was om ander landsburgers ongemaklik te laat voel nie.

Die MRK het bevind Naale se inskrywing kom nie op haatspraak neer nie.

Die instelling het verder aanbeveel dat Naale, sowel as Du Preez binne die volgende maand ‘n menseregteprogram oor rasseverhoudinge moet bywoon.