Italië red duisende migrante

Die Italiaanse kuswag sê in ’n verklaring dat hulle binne 24 uur meer as 4,500 onwettige migrante uit die Mediterreense See moes red van verdrinking.

Italië is die hoofsentrum waar onwettige migrante aan wal stap as sogenaamde  asielsoekers sedert die Balkan-roete vir hulle gesluit is.

Een van die Italiaanse patrolliebote het Dinsdag meer as 1,100 onwettige migrante van ’n sinkende houtboot en vyf rubberbote gered wat vanaf Noord-Afrika afkomstig was.

Ooggetuies sê die houtboot was ’n wrak, maar het 435 onwettige migrante, waarvan 19 kinders en 124 vroue was, vervoer wat nie die kus van Italië sou bereik nie.

Op dieselfde dag het vier Italiaanse bote sowat 1,000 migrante gered waarvan die skepe reeds gesink het.

’n Italiaanse woordvoerder beweer dat die booteienaars ’n bestaan maak deur mense te werf, en teen betaling te vervoer na Europa onder die dekmantel dat hulle asielsoekers is.

Om die migrante te vervoer, word ou skepe en bote gebruik, wat dan oorlaai word en dikwels nie die vrag by sy bestemming kry nie terwyl die boot se eienaar met ’n stewige klomp geld sit.