Gesin jaag weg van hul aanvallers

‘n Gesin van Verwoerdburg het ter nouer nood aan die dood ontkom toe hulle deur drie gewapende rowers in Mnandi aangeval is.

Die mans het hulle ingewag en onmiddellik aangeval toe hulle die aand by die huis gekom het.

Jaco Botma (26 jaar) en sy vrou, Michelle, het teruggespring in hulle bakkie toe hulle die rowers buite die huis gewaar het. Hulle het egter dadelik begin om die voertuig met ‘n stok, mes en vuurwapen toe te takel.

Botma het die voertuig aan die gang gesit en een van die aanvallers het ‘n skoot deur ‘n venster geskiet.

Die koeël het hom skrams teen die been getref en teen die bakkie se vloer vasgeslaan. Hy sê hy het op ‘n stadium vir sy dogtertjie geskreeu op plat te val en daar te bly lê.

Die aanvallers het geskreeu hulle gaan die gesin doodmaak. Botma-hulle het die toeter geblaas en geskreeu om die bure se aandag te probeer trek. Jaco kon daarin slaag om agteruit te ry en weg te jaag.

Veiligheidswagte, die polisie en die plaaslike gemeenskapsveiligheidswag het daarna op die toneel aangekom.

‘n Klag van poging tot moord is by die Wierdabrug-polisiestasie geopen.

Foto – misdadiger met vuurwapen