Cosatu speel weer raskaart in Wes-Kaap

Politieke punte wil weer deur Cosatu se Tony Ehrenreich in die Wes-Kaap aangeteken word deur te beweer dat die skietery op twee vroulike verkeersbeamptes in Khayelitsha daarmee saamhang dat swart beamptes nie so goed soos hulle blanke kollegas opgelei is nie.

Volgens die verklaring wat hy uitgereik het, ontvang blanke beamptes in Kaapstad beter opleiding en groter salarisse met veiliger werksomstandighede.

Cosatu dreig dan ook om aanklagte by Kaapstad se hoof van veiligheid en sekuriteit, Jean-Pierre Smith en die Wes-Kaap se provinsiale minister van vervoer en openbare werke, Donald Grant, te lê, nadat die verkeersbeamptes vandeesweek in Khayelitsha gewond is.

Smith het in antwoord op die aantygings gesê Ehrenreich se feite is verkeerd en alle verkeersbeamptes, afgesien van hulle ras, ontvang dieselfde opleiding.

Hy het voorts daarop gewys dat die twee beamptes wat geskiet is in diens van die provinsiale regering is en niks met Kaapstad te doen het nie.

Volgens Ehrenreich moet swart verkeersbeamptes vuurwapens kry om hulle teen aanvalle te verdedig, en “wil JP Smith tekens op hulle koppe sit dat hulle nie bewapen is nie – so moet hulle asseblief nie skiet nie, maar steeds verwag dat hulle teenwoordigheid misdadigers afskrik”.

Smith het soos volg hierop reageer: “die beamptes is deur die aanvallers ontwapen wat beteken dat hulle vuurwapens gehad het en ek weet nie waar kom Ehrenreich aan die idee dat hulle ongewapend was nie”.

Alle metropolisie, verkeerspersoneel en wetstoepassers ontvang dieselfde salarisse en bestuursposisies word nie deur ras bepaal nie, het hy bygevoeg.

Foto – Cosatu se Tony Ehrenreich