Bokkieweek was weer ‘n luisterryke toernooi

Die grootste skoletoernooi in Suid-Afrika, die Winter Bokkieweek het pas in Kroonstad plaasgevind waartydens 15 unies van feitlik oor die hele Suid-Afrika verteenwoordig was.

Om die optog deur soveel duisende sportlui te sien, was ‘n belewenis.

730 wedstryde is deur 2 800 deelnemers gespeel. Daarby moet ingesluit word die groot getal organiseerders en beamptes soos die bestuurders, afrigters, skeidsregters, bagasiemeesters en ander helpers.

Dit bring die getal saamdoeners op 3 500 te staan. Meer as 10 000 toeskouers het die pawiljoene volgepak met groot getalle op opvoustoele op die grasperke.

Die hoof uitvoerende beampte, ds Peter Stans, het as seremoniemeester by die opening opgetree. Anders as by ander soortgelyke byeenkomste was die klem op die spelers geplaas en nie op die organiseerders nie. Dit is immers die deelnemers wat ‘n sukses van ‘n toernooi maak. Hoogwaardigheidsbekleërs het hulle toesprake kort, kragtig en insiggewend gehou, minder as 3 minute elk, dus was daar geen vervelige oomblik nie.

Die hele Kroonstad moes die Lied van Jong Suid-Afrika dawerend aanhoor. Tydens die opening het Bobby van Jaarsveld opgetree.

Wat by die borge se uitstaltafels en tente duidelik was, was dat hulle dubbel en dwars waarde vir hulle ondersteuning gekry het. Die toeskouers was ruim met hulle dankbaarheid en lojaliteit. Moontlike borge wat nie trots op ons Afrikanerseuns en -dogters is nie, het beslis ‘n gulde (goue) geleentheid misgeloop om hulle winste op te stoot. Miskien sal sommiges nou wakker skrik.

Aan die einde van die toernooi word spanne gekies om Afrikaner Volkseie Sport (AVS) te verteenwoordig.

In 2015 het hulle die volgende toere onderneem:

Rugby – O/13 Steenbokke na Namibië; O/14 Duikers na Namibië; O/16 Presidentspan na Namibië en Georgië; O/19 Bokkiespan na Georgië en O/21 Proewe reeds oor Paasnaweek (Maart 2016) in Orania gehou

Netbal – O/19 na Ierland

Hokkie – O/14 Duikers na Wes-Kaap en O/19 Seuns en dogters na Nederland

Later vanjaar word ook ‘n Somerspele gehou. In 2015 het hulle getoer:

7’s Rugby – O/14, O/16 en O/19 na Italië

Krieket – O/13 Steenbokke na Suid-Kaap en O/19 Bokkies na Dubai

Kyk net watter geleenthede gaan vir die Afikanerseuns en -dogters van ander skole verby wat hierdie toernooie kon meemaak, maar nie ingeskryf het nie! Onthou, ‘n skool skryf nie in nie, elke sportseun en elke sportdogter en ook redenaars skryf op hulle eie in vir proewe in hulle unie en daaruit word die spanne vir deelname gekies.

Wat gedurende die Bokkieweek sterk opgeval het, was die algehele vriendelikheid en besondere beleefdheid wat een en almal uitgestraal het. Seuns en dogters en toeskouers en beamptes was soos ‘n groot familie altyd gereed om mekaar te help. Tussen hulle het almal soos koninklikes gevoel.

Net die netbalspelers was bietjie nydig (grappie), want hulle het gesê, as netbal maklik was, het hulle dit rugby genoem.