Treffend Afrikaans – die kinderskoene van ‘n taal

Van-Riebeeck-land-in-Kaap

Toe Jan van Riebeeck in 1652 met ‘n klompie Hollandse amptenare in diens van die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie in Tafelbaai aan wal gestap het om hier ‘n verversingspos te stig, het hy ook die Hollandse beskawingsvorm hier gevestig, dit wil sê die taal en die kultuur van die amptenare was Hollands.

Sekere taalkundiges wat hulle op die taalgeskiedenis toegespits het, beweer die wortels van Afrikaans was reeds teenwoordig in die 17de eeuse taalgebruik en in besonder die Suid-Nederlands van die Hollanders wat in die Kaap aangekom het. Uit hierdie Nederlands het Afrikaans aan die Kaap gegroei sonder enige beperkinge wat dalk nog in Nederland taalsake in toom kon gehou het.

Gedurende die eerste vyftig jaar het ‘n wonderwerk gebeur; die ontstaan van ‘n afsonderlike selfstandige taal, naamlik Afrikaans, het vorm begin aanneem.

Afrikaans het as inheemse spreektaal ontstaan en so gebly totdat die eerste bewuste poging in 1795 aangewend was om Afrikaans te skryf. Daarna het meer pogings gevolg wat Afrikaans geleidelik tot ‘n volwaardige skryftaal gevorm het.

Sedert Engeland die Kaap vanaf 1806 beheer het, het die regering doelbewus gepoog om die gebruik en ontwikkeling van Afrikaans te verhoed. Reeds in 1813 is maatreëls getref om die gebruik van Afrikaans in te perk sodat algehele verengelsing kon plaasvind. Verengelsing is in die kerk, in die howe en in die skole afgedwing, maar steeds het die Afrikaanse volk wat reeds vorm aangeneem het, met Afrikaans in hulle huise en ander gesprekke volhard.

Die toestand het egter ondraaglik begin word, in so ‘n mate dat C P Hoogenhout uitgeroep het: “Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy siet en hoor; in ons skole, in ons kerke, word ons moedertaal vermoor. Hollands nog in sekere skole is bedrog, ‘n blote naam.”

Die tyd was ryp vir ‘n volksontwaking, vir ‘n stryd om die Afrikanervolk uit die wurggreep van verengelsing te bevry. Gesamentlike optrede het gevolg. Die Afrikanervolk wou sy siel bewaar en het Engels as die taal van slawe beskou. So sterk was die bewuswording van die Afrikanervolk dat hulle suiwer Afrikaans begin praat het en alle indringende Engelse woorde verwerp het. Hulle het trots geword op hulle selfstandige taal en daarmee saam hulle kultuur. Hulle het besef dat taal– en kultuurverwaarlosing tot hulle ondergang sal lei.

Dit laat ‘n mens dink aan die huidige toestand in ons skole, by regeringskantore, in howe en ook in kerke waar daar al hoe meer op listige wyse van ons taal, kultuur en Christelike geloof afgewyk word. Soos C P Hoogenhout kan ons ook sê,  “Afrikaans nog in sekere skole is bedrog, ‘n blote naam”. Gelukkig begin Afrikaners hierdie fyn hantering van sake in al hoe groter getalle raaksien.

Ons voorouers het werk begin maak teen die verengelsingbeleid van die regering en het onafhanklike skole gestig waar Afrikaans, Afrikanerkultuur en godsdiensonderrig heringestel is (die CNO-skole). Weerstand is opgebou teen die regeringskole wat nie vir godsdiensonderwys voorsiening gemaak het nie. Dit was die taal van die Bybel en die gebed en ons voorouers het nie aan hul godsdiens laat torring nie. Hulle het dit beklemtoon dat taal en volksbestaan nie van mekaar geskei kan word nie. As die taal verlore gaan, gaan die volk verlore.

Taalstryder