Paardekraal Feeskommissie nie deel van nuwe SA lied

Die Paardekraal Feeskommissie het hom op ‘n onlangse vergadering geheel en al gedistansieer van die oproep om deel te word van én deel te neem aan “Sing ‘n nuwe (Suid-Afrika) Lied”.

Ook distansieer die Kommissie homself van al die besluite en uitsprake van die organiseerders van die oproep.

Hier word verwys na ‘n versoeningsveldtog vanaf 11 Junie tot 16 Desember vanjaar tussen die 1976-Skoolopstandgenerasie en Diensplig-generasie wat uitgedink is deur eerwaarde Frank Chikane van die SARK en die voormalige algemene sekretaris van die NG Kerk, dr. Kobus Gerber.

‘n Saamtrek word op 11 Junie in Soweto gehou en die tema daarvan is, “Sing ‘n nuwe lied (van versoening).” Dit is glo gebaseer op ‘n proefskrif van ‘n weermagkapelaan van Bloemfontein, Pieter Bezuidenhout.

Die Paardekraal Feeskommissie het homself opnuut verbind aan die besluite en geloftes van Majubadag, Van Riebeeckdag, en Geloftedag (1838 en 1880).

Verder het die Kommissie homself verbind om Majubadag en Van Riebeeckdag vanaf 2017 deel van sy taak te maak om by Paardekraal geleenthede te reël wat gepas sal wees op hierdie herdenkingsdae. Met gepas word bedoel dat beide dae so aangebied sal word dat die eer aan die Here alleen gegee word.

Die Feeskommissie wil ook graag ander Geloftefees kommissies regoor die land oproep om die voorbeeld te volg. Ook wil die Feeskommissie ander kommissies oproep om op 16 Desember die Paardekraal Gelofte van 1880 saam met die 1838 Gelofte te herdenk.