Ons Bittereinder harte onthou ons mense

Vandag op 16 Junie word Konsentrasiekampdag gehuldig. Bykans in die hartjie van die winter herdenk die Boerevolk sy vrouens, kinders, oumense en volksgenote wat omgekom het in die Helkampe van die Engelse.

Daardie koue sneeuwit velde waarin tentjies soos hare op ‘n hond staan, is van die foto’s uit die Tweede Vryheidsoorlog wat ‘n verhaal vertel van ontbering, sterftes en skreiende onmenslikheid.

Uiteindelik sou daar volgens die jongste beskikbare navorsing sowat 34 000 vroue, kinders en oumense vermoor word weens hierdie oorlogsmisdaad waarvoor Engeland, sy koningshuis en sy regering nog nooit amptelik vir die Boerevolk verskoning gevra het nie.

Daar is al vir inheemse volkere wat onder die Engelse hiel gestaan het verskoning gevra, maar die geskiedenis tot op hede vertel sy eie verhaal waarom Brittanje nog nooit sover gekom het om spesifiek die Boerevolk verskoning vir sy wandade te vra nie.

Wat sou ‘n verskoning nou na meer as honderd jaar die Boerevolk in die sak kon bring?

Sekerlik min in geldelike terme, want die sogenaamde vergoeding wat uiteindelik destyds na die Tweede Vryheidsoorlog deur Brittanje aan die Afrikanervolk betaal is, was niks anders as ‘n belediging nie.

Die verskroeide aarde beleid van die Tommies was ‘n verwoestingsveldtog wat saam met die Helkampe die Boerevolk moes uitdelg.

Oorsee sou die Boere-saak groot opslae maak en die Engel uit die Vreemde, Emily Hobhouse, het uiteindelik haar sodanig oor ons ontferm dat sy self kom kyk het wat aangaan en bemoeienis met die Boere se vroue, kinders en oumense gemaak het.

Onlangs het ‘n jong meisiekind uit Brittanje gekom wat ‘n naamgenoot is van haar, en ook familietrekke met haar deel. Haar besoek het onder meer verskeie konsentrasiekampe in die Vrystaat en die Vrouemonument ingesluit.

Maar des te meer het haar besoek skielik al die herinneringe weer in die Boerevolk laat opkom.

Al die deernis van een vrou wat haar ontferm oor ‘n ander volk wat deur haar eie volk as aartsvyand behandel is. Selfs na die oorlog het sy ons onthou en weer hierheen gekom om ons weer op ons voete te probeer help. Emily Hobhouse (sr.) het onder andere probeer om weef- en kantskole te vestig sodat die Boerevolk se vrouens en jong dogters hulle uit die ellende kan probeer lig.

Vir die jong Emily Hobhouse (19 jaar) is ‘n geweefde handsak en ‘n stukkie kant as geskenk gegee as simbool van hierdie kreatiewe pogings en Christelike medemenslike liefde van haar voorsaat. Ondanks die verskroeiing van die Boere se harte en eiendom, het die lig van hoop en kreatiwiteit onverwoesbaar bly brand.

Die jong Engelse meisiekind (wat Duits vlot praat) het tydens die geleentheid verskoning gevra vir die Britse onreg teen die Boerevolk, alhoewel haar geslag nie daarvoor verantwoordelik was nie. Ook hierdie verskoning moet simbolies aanvaar word deur ‘n Bittereinder-volk.

Wat onthou ons vandag en elke dag van ons lewens? Huldig ons nog die slagoffers van die konsentrasiekampe en die Boerevolk se oneindige offers in en na die Tweede Vryheidsoorlog?

Onthou ons met dankbaarheid elkeen se offers en ook dié van die Engel uit die Vreemde, Emily Hobhouse? Slegs dan kan ons daaruit hoop en kreatiwiteit put wat onverwoesbaar bly brand in ons Bittereinder-harte.