‘n Vis vrot mos van die kop af

Vrese bestaan dat die geweldpleging in Pretoria kan oorspoel na ander dele van die land weens ontevredenheid met kandidate wat op nasionale vlak deur die ANC vir burgemeestersposte benoem is.

Een van die eerste plekke wat genoem word, is Bloemfontein waar die stryd tussen ten minste drie kandidate vir die hoogs gesogte pos baie maklik kan ontaard in gewelddadigheid.

Die gerugte dat Pretoria se onluste en plundery vanuit die ANC-geledere aangestig is, geld dus eenvoudig regoor die land.

Geskille word mos besleg deur die strate in te vaar en ander mense se eiendom te beskadig deur dit aan die brand te steek of dit te plunder.

Dit is hoe dit gedoen word deur die mense wat binnekort gaan stem oor wie die land se munisipaliteite moet bestuur.

Wat word in die rookseine gelees terwyl miljoene rande se eiendom verwoes word? Hierdie misdadige verwoesters beskik oor stemreg, en word gebruik om mag en geld te bekom. Dit kan onder andere die duidelikste in die rookseine gelees word.

Hierdie kriminaliteit word aangemoedig en ingespan deur diegene wat poste wil kry, want raadslede en burgemeesters verdien vet salarisse en hulle byvoordele is oneindig baie.

Die mag wat bekom word, sorg op presies dieselfde manier as op provinsiale en nasionale vlak vir oneindig baie finansiële byvoordele. Een vrugbare verdienste is tenderbedrog en dit word lankal nie meer net in miljoene nie, maar in miljarde rand bereken.

Die manipuleerders en posisie-soekers gebruik misdadige metodes om uiteindelik self misdadige praktyke te pleeg sodra hulle in die kussings gehelp is.

Altesaam 91% munisipaliteite is volgens die jongste OG-verslag finansieel in die knyp weens hierdie misdadige wanpraktyke.

Regdeur die ANC-spektrum, vanaf stemvee tot posisie-soekers en uiteindelik die bekleërs van posisies is verrot. Die munisipale vlak is maar net ‘n spieëlbeeld van die ander twee regeringsvlakke.

Maar ‘n vis vrot mos van die kop af. Die verrotting moet natuurlik hoër op gesoek word, en daar kan sommer dadelik by die president begin word.