Water is lewe

Die boektitel, Water is lewe, klink eintlik so voor die handliggend wanneer dit gelees of gehoor word.

Maar hierdie boek wat in 1975 verskyn het, het in die vergetelheid versink saam met ‘n bestel wat deesdae om elke hawerklap die skuld kry vir alles wat in die ANC-vernietingsjare vanaf 1994 skeefgeloop het.

Gewone bestuursvernuf op munisipale vlak is lankal in die meeste dorpe en stede iets van die verlede.

Korrupte kaders word aanhoudend herontplooi en duik gedurig iewers elders op. Wanneer die bedrogsake, swak beplanning en ander droogmakery op Plettenbergbaai te erg raak, duik die munisipale wanbestuurder maar net op in die Wes-Transvaal op Ventersdorp. Natuurlik met ‘n spoggerige motor en ander byvoordele totdat die ou dorpie finansieel heeltemal so op sy knieë is dat Potchefstroom uiteindelik met sy bankrot buurdorp opgesaal word. Natuurlik nogmaals om politieke gewin.

Munisipaliteite wat heeltemal bankrot bestuur is deur kaders is trouens eintlik die reël, eerder as die uitsondering.

Sake lyk net so benard en beroerd in die Vrystaat. Die knellende droogte is ‘n gegewe, maar dit lyk asof dit ‘n gerieflike verskoning is vir swak bestuur en ‘n gebrek aan beplanning.

En natuurlik, op Kroonstad is die ernstige watertekort volgens die munisipaliteit die apartheidsregering se skuld omdat hulle nie vir die groeiende bevolking voorsiening gemaak het nie.

Hoe lank duur die ANC-bestel se vernietigsjare nou al?

Skoon water het in te veel munisipaliteite in die slag gebly saam met die kundigheid om riool- en watersuiweringswerke behoorlik in stand te hou.

Afgesien van die kaders op hierdie regeringsvlak is daar ook diegene wat ook op nasionale vlak bak hand staan vir meevallers, sonder om in die sweet van hul aangesig hulle brood te verdien.

Wat is nou makliker in Afrika, veral in Suid-Afrika wat besonder ryk is aan natuurlike hulpbronne om links en regs met die uitreiking van waterlisensies en ontginningsregte vinnige geld te maak?

Die steenkoolmyne in die waterryke Oos-Transvaal is besig om die omgewing te verwoes, maar dit reën behoorlik geld soos die vergunnings toegestaan word.

Dan is daar boonop suur mynwater wat ‘n erflating is van die vorige bestel en hulle mynbou-vriende. Die omgewingsbesoedeling wat dit veroorsaak in riviere, spruite en damme is al vir jare ‘n openlike geheim aan die Rand en omstreke.

Maar dit klink asof tri-osmosetegnologie aangegryp gaan word, en sommer direk en indirek deur die belastingbetalers gefinansier sal moet word.

Nog ‘n projek wat dalk net nooit van die grond sal kom nie nadat miljarde rand in die sand verdwyn het.

Dit is al ‘n spesialiteitsgebied, gewetenlose selfverrykingsprojekte.

Waarskuwings om behoorlike beplanning en bewaring te doen rakende Suid-Afrika se beperkte waterbonne word al vir meer as 20 jaar in die wind geslaan.

Indien die krane heeltemal droog is of al die water besoedel is – dan sal ons seker maar almal ingevoerde kos eet en gebottelde water, ingevoer uit Indië deur die Guptas in samewerking met ANC-kaders, drink.