Om ‘n land te vernietig

Die land en sy parlement is besig om heeltemal uiteen te val.

Een van die hoofredes is die feit dat ‘n terroriste beweging selde of ooit daarin slaag om ‘n suksesvolle oorgang te maak na ‘n politieke party en ‘n regeerder van ‘n landsregering.

Daardie sogenaamde demokrasie en al die ander terme waarmee te koop geloop word, het lankal gesneuwel in die lig van die ware stand van sake.

Die ANC-bestel se aanvoerder, Jacob Zuma, is immers al sedert sy 21ste jaar ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP).

Boonop was hy ook deel van “Nat”, die gevreesde veiligheidsdepartement van die ANC se sogenaamde uitgewekenes. Algemeen bekend as “Mbokobo,” oftewel “die klip wat vermorsel”, het dit ‘n skrikbewind gevoer en was aan niks of niemand, behalwe die opperhoof, verantwoording verskuldig nie.

“Mbokobo” het hom in die hoofaanhoudingskamp van die ANC in Angola, Quadro, skuldig gemaak aan die allerverskriklikste martelingsessies, korrupsie met fondse, diefstal van voertuie en vele meer. “Mbokobo” was ‘n soort intelligensie arm van die ANC aangesien dit inligting moes insamel.

Juis omdat daar snaaks genoeg baie min oor sy aandeel in "Mbokobo" en sy doen en late in ‘n bepaalde tydvak bekend is, word daar van Zuma se sogenaamde “missing years” gepraat, maar ‘n rekonstruksie van sy bewindstydperk kan die leemtes help invul.

Die polisie en spesifiek die polisiehoofde hou nie lank nie. Spesialiseenhede se aanvoerders sit altyd ook nie lank genoeg rond om hulle stoele warm te sit nie. Trouens, hierdie mense kom soms uit ‘n donker verlede en het meestal geen toepaslike ‘nie-rewolusionêre’ ondervinding nie.

Die ministers van polisie is ook nie manne wat altyd in ‘n gemaklike posisie is nie. Dit kan immers tog nie te maklik wees om ‘n Nkandla-verslag op te stel in opdrag van Zuma nie.

Dit bring die sogenaamde staatsveiligheidsektor ter sprake, waar ‘n hele netwerk van spioene hulle tyd verwyl om teenspioenasie op kollegas te doen.

Dit kring weer uit na die regbank, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Denel en sommer ‘n reeks ander instellings.

Daardie verdagmakering om iemand te sink is ou ingeoefende metodes. Al die anargie, wetteloosheid en misdaad in Suid-Afrika het immers sy oorsprong in die ANC, SAKP en Cosatu se kweekskole.  

Lang uitgerekte ondersoeke se bevindinge kry gewoonlik iemand wat in onguns verval het uit die pad. Maar die jarelange ondersoek na ‘n baie-baie verwikkelde wapenskandaal het getoon hoe die hoofverdagte skotvry daarvan kom. Die oorlewingsvermoë van oud-terroriste, wat uiteindelik ‘n land probeer regeer, lei gewoonlik tot ‘n diktatuur.

Uiteindelik is Suid-Afrika net nog ‘n Afrika-land met ‘n eenparty diktatuur, waar anargie hoogty vier.