Die pot kook kort-kort oor

Werkloosheid in Suid-Afrika word as ‘n tikkende tydbom beskou, veral onder die jonger garde omdat dit sou lei tot onrus en politieke onstabiliteit.

Plaaslike betogendes se spoor van verwoesting kan inderdaad gevolg word oor ‘n tydperk van etlike dekades, en natuurlik ook vergelyk word met ander lande. Die ooreenkomste is onmiskenbaar baie dieselfde.

Die ontevredenheid word meestal geskoei op die refrein van armoede of werkloosheid of wat ookal en dien in baie gevalle as regverdiging vir blatante misdadigheid.

Vreemd genoeg is daar altyd diegene wat nie oorgaan tot brandstigting en saakbeskadiging nie. Dissipline kom eerder na vore in die aangesig van ‘n verskriklike en omvangryke ramp, soos ‘n tsoenami. Niemand gaan oor tot brandstigting en plundery nie, maar begin ondanks alles dadelik herbou.

Hier te lande kan tereg gevra word: waarom kla oor armoede en werkloosheid, maar skole word afgebrand en eiendom word beskadig? Selfs die moontlikheid dat hierdie soort optrede nog dateer uit die vorige bedeling en ‘n ingeoefende wyse is om sake te besleg, gaan ook nie meer op nie. Die ANC-bestel is al 22 jaar aan bewind.

Wanneer die vlamme knetter en dit later soos ‘n oorlogsone lyk, word die rookseine opgestuur: “dit is apartheid se skuld,” of “dit is Bantoe-onderwys wat oorgeërf is,” of “dit is Verwoerd se skuld”.

Ontevredenes se onderliggende ingesteldheid is eintlik: hierdie instelling is nou netjies opgemors weens korrupsie, swak bestuur en ‘n gebrek aan instandhouding. Nou skuld iemand anders my ‘n ander plek om oor te neem en te verwoes, hetsy deur dit in die grond in te bestuur of deur ‘n vuurhoutjie daarin te steek.

Wat het geword van al die instellings wat eens op ‘n tyd onder apartheid goed gewerk het? Die lys is baie lank en dit betrek meeste munisipaliteite, ongeag waar hulle grense afgebaken is. Wat het geword van die Universiteit van Venda, Universiteit van KwaZulu-Natal, Universiteit van die Noorde en vele ander instellings?

Iewers het al hierdie instellings saam met dissipline, effektiwiteit en gesonde finansiële bestuur asook politieke insig spoorloos in die Burmuda-Driehoek verdwyn.

Helaas, dit is juis daardie instellings wat afgebrand is, toegemaak het, voortsteier of nog fyngemaal word wat werkloosheid en armoede aan bande sou kon gelê het.

En dit bring weer die tikkende tydbom van onrus en politieke onstabiliteit ter sprake. Die ANC-bestel is al 22 jaar in hierdie pruttende pot wat kort-kort oorkook en die kos verbrand.