Trump wen in al vyf state

Die Republikeinse kandidaat Donald Trump het in die voorverkiesings wat Dinsdag gehou is, in al vyf die deelstate getriomfeer.

Daarmee is hy nog ’n stap nader aan die 1237 afgevaardigdes wat nodig is om as die amptelike kandidaat van die Republikeinse party teen die Demokrate te veg in November vanjaar.

 Met die sluiting van die stembusse in die vyf state, Pennsylvania, Maryland, Connecticut, Delaware en Rhode Island. Was dit reeds duidelik dat Trump die oorwinnaar is.

Dit kom te midde van die gesamentlike poging van Ted Cruz en Johan Kasich om Trump teen te staan deur nie mekaar te opponeer nie.

Hillary Clinton van die Demokratiese Party kon daarin slaag om in vier van die deelstate die botoon te vier, wat haar nou baie naby aan die vereiste meerderheid bring om as die party se presidentskandidaat te staan in November.

Bernie Sanders, die selfverklaarde sosialis, het Rhode Island ingepalm, en herhaal dat hy tot die laaste deelstaat se verkiesing in die stryd sal bly teen Clinton.

Trump het reeds 946 van die vereiste 1237 afgevaardigdes by hom geskaar en daarmee sy voorsprong verder vergroot, maar as hy nie die vereiste 1237 afgevaardigdes kan monster nie, is daar steeds ’n moontlikheid dat die konvensie vir Ted Cruz kan aanwys as presidentskandidaat.

In die verkiesing van 3 Mei sal die Cruz-Kasich ooreenkoms se resultate om Trump te oorwin, duideliker na vore kom, want in die state Indiana, Oregon en New Mexico staan die twee kandidate vir mekaar terug.

Clinton het reeds 2097 afgevaardigdes en vinnig op pad om die vereiste 2382 se steun te bekom wat haar dan as finale kandidaat van die Demokrate sal maak, maar Sanders wil nie bes gee nie, en gaan haar opponeer tot die einde.