Islamitiese Staat se aktiwiteite taan

Die eens gevreesde en magtige Islamitiese Staat (IS) se slaankrag, invloed en versameling van rykdom is besig om te taan in Sirië, Iran en ander omliggende lande.

Alhoewel die terreurgroep nog lank nie vernietig is nie, het hulle invloed ’n groot terugslag gekry toe van sy mees prominente leiers in verskeie aanvalle gedood is, en honderde vegters ook omgekom het.

Die Amerikaanse offisier, genl. Peter Gersten het bevestig dat die IS magte se slaankrag dramaties verswak het, en word daaraan toegeskryf dat al minder mense by die terroristegroep wil aansluit.

Hy sê waar daar tot ’n jaar gelede soveel as 2,000 stryders elke maand by die terroriste aangesluit het, is daar nou kwalik 220 wat maandeliks aansluit.

Die feit dat die terroriste se oliebronne deur Rusland platgeskiet is, het die inkomste met 70% laat daal, wat betaling van vegters al moeiliker gemaak het.

Die verdrywing uit groot stede het ook ’n geweldige invloed uitgeoefen, want die inkomste uit onregmatige belastings teen inwoners was altyd ’n reuse bron van inkomste.

Daarmee saam is die gebruik om beslag te le op antieke meubels van inwoners, wat dan ten duurste elders verkoop is, ook van die baan.

Die vermoede bestaan dat die terroriste nog ’n vegters korps van sowat 30,000 kan he, teenoor die meer as 100,000 van etlike maande gelede.