Die waarde van Geloftes

Bepaalde volksgroepe in Suid-Afrika verkondig graag dat die swart volkere eerste in Suid-Afrika was en dus die wettige “eienaars”  van Suid-Afrika is.

Wat hulle versuim om te sê is dat Suid-Afrika as ‘n staat voor en ook ‘n tyd na Jan van Riebeeck se vestiging van ‘n halfwegstasie, nie bestaan het nie.

Daar kan dus geen aanspraak op  “eiendomsreg”  deur die swartes gemaak word nie. Die voorste swart volk wat langs die ooste suidwaarts getrek het, was daardie tyd meer as 1 000 kilometer van die Kaapse skiereiland af.

Dit was eers meer as 200 jaar later wat die suidtrekkende Kôsas en die Trekboere mekaar in die omgewing van die Visrivier ontmoet het.

Watter reg het enige swart volk om op die deel wes van die Visrivier aanspraak te maak?

Botsings het gou gekom omdat niemand terugwaarts wou trek nie. Soos algemeen bekend, kan twee volke met uiteenlopende eie tale, beginsels, lewensbeskouing, denk- en lewenswyse in geen omstandighede saamleef nie. Daar sal altyd struwelinge wees, soos tans ook, daarom het die Trekboere in samewerking met Nederland en later met die Engelse regering die Visrivier as ‘n vreedsame grens beskou.

Die Kôsas het egter voortdurend die grens oorgesteek en onrus het gevolg. (Met verwysing na grond onregmatig in besit neem, Engeland het die Kaap in 1806 sommer net eensydig geannekseer. Daarvan word selde melding gemaak).

Alle Afrikaners ken ons geskiedenis. Hierbo was net ‘n aanknopingspunt.

Die Voortrekkers het besluit om vredeliewend om die Kôsas te trek en Natal binne te gaan. Hier het hulle in vrede met die Zoeloes onderhandel om hulself binne bepaalde grense te vestig waartoe Dingaan ingestem het. Oor die verraad van Dingaan het V C Mutwa (‘n Zoeloe) in sy boek “Indaba, my children” geskryf dat dat die Zoeloes so erg oor hierdie dwase daad geskok was dat baie hom verlaat het en na Mpande oorgeloop het. Zoeloes praat nie maklik hieroor nie.

Maar ons kyk na die waarde van die Voortrekkers se gelofte. Die Zoeloes se sterk mag het die Kôsas al verder suidwaarts gedryf totdat hulle die Visrivier bereik het. As die Voortrekkers die Zoeloes nie by Bloedrivier gestuit het nie, maar die aftog moes blaas of liewer padgegee het, sou die ander Voortrekkers en alle blankes in Natal in die mag van die Zoeloes wees. Met hulle oorwinnings sou hulle voortbeweeg en die Kôsas voortdryf totdat hulle die ylbewoonde Oos-Kaap (omdat die grensboere getrek het) heeltemal beset het en verder tot by Kaappunt. Dit was immers die gang van die geskiedenis. Die inwoners in die Wes-Kaap sou dan regstreeks in die spervuur wees. Die Here het egter tussenbei getree en daarom is die gelofte op alle Afrikaners van toepassing.

Buitendien, waar ‘n groep volksgenote so verraderlik behandel is, is dit ‘n eerbare natuurlike drang van ander volksgenote om hulle summier te ondersteun.

Dit is byvoorbeeld waarom die Vrystaters die Transvalers in die Vryheidsoorlog van 1899-1902 te hulp gesnel het.

Johan Dorfling