Pragtige George lelie

Georgelelies / Cyrtanthus elatus

 

Ons het hier te doen met een van die pragtigste lelies in die land. Die Georgelelies is familie van die Amaryllidaceae en is een van Suid-Afrika se skouspelagtigste bolplante. Dit is juis nou die tyd om bolle te plant vir ‘n mooi lentetuin.

 

Georgelelies kom hoofsaaklik in die oostelike somerreënvalstreek van die land voor. Dit kom endemies voor in die suidkusstreek in die Mosselbaaigebied in die weste tot Humansdorp in die ooste. Dit moet in leemgrond geplant word en die grond moet redelik suur wees. Hierdie plante blom oorvloedig na die bosbrande in daardie streke.

 

Die plante se blare herinner ook aan Amaryllidaceae  en is glad en lintvormig en heldergroen. Georgelelies kom in verskillende kleure voor, soos room, geel, ligpienk, donkerpienk en rooi en dra tot tien blomme aan ‘n lang stingel. Die stingel kom van onder uit die pol in die grond. Dit het stewige hol stamme wat regop groei met die blomme aan die bopunt. Hierdie plante is immergroen. Die blomme het 6 kroonblare en lang pienk stuifmeeldrade met ‘n geel stuifmeel kolletjie op die punte.

 

Plant dit in volson in humusryke grond soos fyn gesifte suurkompos wat met growwe riviersand gemeng is. Dit is ideaal om hulle in die lente uit die kwekerysakkies uit te plant, want hulle hou nie baie daarvan om versteur te word nie. Plant hulle dig opmekaar vir ‘n skouspel as dit eers blom. Dit kan ook in potte geplant word en sal in ligte skadu aard. Wees versigtig om nie die polle te gou te verdeel nie, laat hulle eers baie goed groei vir ‘n paar jaar voordat u dit oorweeg om die polle te verdeel. Dit moet ook in die lente gedoen word. Hierdie plante hoef net twee- tot drieweekliks water kry, hulle is gevoelig vir te veel vog. Bestuiwing vind net plaas deur die Aeropetes tulbaghia (groot bruin-geel skoenlapper).

 

Pluk  blomme vir die vaas eers wanneer die eerste blom oopgegaan het. Daar is sekeres van hierdie lelies wat beter blom as ander. Plante blom egter beter as hulle meer son kry en oordeelkundig natgemaak word. Hou hulle egter dop vir lelieboorderruspes wat lief is om hierdie plante aan te val en te verwoes. Hierdie plante is net by uitgesoekte tuinsentrums beskikbaar.

 

Tuiniers, geniet die bolplantery na die reën.