Gesonde kruid as jy hom kan sluk

Wynruit / Ruta Graveolens

 

Wynruit se botaniese naam is Ruta Graveolens en word sommer ook kortliks Rue genoem. Wynruit is in die familie Rutacea. Dit word ook die kruid van jammerte en spyt genoem. Ander name is byvoorbeeld “Herb of Grace” en “Herbygrass.

 

Wees versigtig voordat u sommer met wynruit werk, vind eers uit of u nie dalk allergies is vir hierdie kruid nie. Indien u daaraan vat en die vel toon enige reaksie, was dadelik die aangetaste dele met seep en spoel deeglik af met koue water.

 

Wynruit is ‘n ou kruid en baie bekend onder die ouer geslag. Dit was voorheen vir sommer baie kwale gebruik. Daar is van ons lesers wat sekerlik sal onthou dat ons nie gewaag het om te kla oor ‘n seer keel as kind nie, want dan moes ons met hierdie vreeslike kruiewater gorrel. Die kruid het ‘n baie sterk reuk en smaak frank.

 

Wynruit word regoor die wêreld geplant en dit plant baie maklik voort van steggies of deur die wortels te verdeel en uit te plant. Dit groei op enige plek in enige soort grond. Indien u opslagplante wil uitplant, moet hulle ten minste so 10 cm hoog wees. Wynruit word tot 50 cm hoog. Sny gereeld die ou takke uit om ‘n mooi plant te hê, want al smaak dit nie lekker nie, is die plant self nogal mooi met sy valerige blare.

 

Dit kan ook slordig raak indien u dit nie in toom hou nie. Dit maak lang smal takke waaraan daar klein trossies goudgeel blommetjies verskyn en dit blom oorvloedig sodra dit begin blomme dra het. Die blommetjies verskyn aan die einde van die somer en dit maak ‘n saadlob met klein swart saadjies. Die blare het ‘n vaal-groen voorkoms en smaak bitter.

 

In die middeleeue het sekere mense hierdie blare gebruik en in water laat trek en dit dan as heilige water gebruik gedurende hulle godsdiens oefeninge.  Plant ook hierdie kruid naby vrugtebome om vrugtevlieë weg te hou. Indien u dit naby die kombuisvenster plant sal daar ook nie vlieë in die kombuis rondvlieg nie. Hang dit ook by u troeteldier se slaapplek, dit sal die vlooie weghou.

 

Dit kan ook in kapsulevorm gekoop word en kan vir vele kwale gebruik word. Dit is baie beter om liewer die kapsules te drink as om self die tee te trek en te drink. Volgens bronne is dit baie goed vir mense met hartkwale en hoë bloeddruk.

 

Tuiniers onthou om altyd u huisdokter te raadpleeg alvorens u van kruie-medikasie gebruik maak, veral saam met u kroniese medisyne. Geniet u tuin tot volgende keer.