Kom ons takel prysstygings

Gedurende die maer na-oorlogse jare toe ek ‘n kind op Kleindorp was, was daar ‘n pragtige ekonomiese stelsel tussen die boere en die dorpsmense vir die lewering van vars produkte.
Wanneer die boer dorp toe moes gaan, was dit nooit met ‘n leĆ« bakkie nie. Hy het sy voertuig vol vrugte en groente uit hul tuin en  soms selfs ook blokke botter en bottels vol room gelaai. Hy het dan vroegoggend al op die kerkplein gaan parkeer, waar die dorpenaars hul kraakvars produkte kon gaan koop. Die boer kon sy petrol betaal, asook ander inkopies in die winkels gaan doen.

Verlede week staan ek oopmond in ‘n varsprodukte-supermark en kyk na geelperskes wat R70 vir ‘n kissie van 15 kos, of R35/kg los. Ek kon nie help om te wonder hoeveel daarvan uiteindelik in die arme boer se sak beland nie. Seker net ‘n fraksie.

Verlepte koolkoppe kos R25 elk, terwyl ek weet dat die koolboer nie meer as R10 elk kry nie. Dan dink ek terug aan ons jong jare in die stad toe groepe van ons saamgespan het en een keer per week ons groente op ‘n groenteplaas buite die stad gaan koop het.

Tuis gekom, lees ek een bangmaak-artikel na die ander oor die stygende voedselpryse en hoedat ons almal bandjies om ons magies sal moet bind.

In my geestesoog sien ek hoe gewillige huisvrouens klaar gesnyde groente teen hemelhoĆ« pryse sonder blik of bloos in hul mandjies sit. Daar is immers ‘n enorme  verskil tussen bv. gesnyde pampoen en heel pampoen of maak hulle nie sommetjies nie? Gebruik hulle voldag werk as verskoning? Ons het immers almal destyds voldag gewerk en daar was nie iets soos klaargesnyde groente nie. Ook maar goed, hulle doop dit in een of ander chemikalie om die raklewe te verleng. Nou betaal jy nog verder om dit ook in te sluk. (Dis hoe hulle aartappels en patats wit bly.)

Op die keper beskou, is daar iewers ‘n groot, onnodige verhoging van kostes vir die verbruiker nadat die produk die plaas verlaat het. Dit hang van elkeen persoonlik af of hy gaan wal gooi teen onnodige uitgawes en ander alternatiewe soek, of dat hy maar sal voortdobber met die stroom.

Diegene wat besluit om aksie te neem en vars produkte goedkoper in die hande te kry, kan gerus kyk na die koopstelsel wat ons klomp jong huisvrouens destyds gevolg het.
Ons het in groepe vriendinne georganiseer  en elke week het een van ons die nodige vars groente en vrugte op ‘n plaas  gaan aankoop en dan het ons dit gedeel. Nog een van ons het al die spesiale aanbiedinge in koerante dopgehou en ons het sodoende blikkieskos en skoonmaakmiddels teen afslagpryse gekoop, gewoonlik genoeg vir een maand se gebruik.
Vleis is duur en almal is lief vir vleis. So het ons geleer dat as jy vleis in groot maat aankoop, dit heelwat goedkoper uitwerk as om bietjies-bietjies te koop. Ons het dus saam ‘n bees se agterkwart of halwe skaap gekoop en gedeel. Geslagte hoenders is op groot maat by ‘n hoenderplaas gekoop, so ook die eiers.

Deesdae is daar oral boeremarkte wat die boer en verbruiker bymekaar bring. Dis ‘n wonderlike hulp, maar ongelukkig het daar reeds smouse ingesluip wat met heilige gesigte verlepte groente wat op die mark gekoop is, duur herverkoop. Loop katvoet.

Die wenslikste is om produkte direk van die boer te koop. Hy kan sy prys bietjie laai om te help oorleef en ons kan nogtans  goedkoper betaal sodat ons ook kan oorleef.

Dit is wel moontlik om groente met ‘n lang raklewe goedkoop in groot maat aan te koop en op te berg. Ek dink aan hele pampoene bv die lekker ou ysterpampoen, sakkies botterskorsies, sakke uie, sakke patats en sakke aartappels. As jy wortels kry wat nog blare aan het, begrawe dit in jou tuin dis heel gelukkig so.
As jy grootmaat tamaties goedkoop kry, kook dit en vries in  sakkies. Boontjies word geblansjeer en gevries en soetrissies net gesny en gevries.

Dit hang van elkeen persoonlik af of hy/sy kies om die middelman wat jy nie ken nie, te verryk of om jou geld in jou sak te hou. Al wat dit kos, is ‘n bietjie moeite.
Sterkte in die stryd!
Bertha Albertyn