Skrikkeljaar – Bonusjaar

 

2016 is ‘n skrikkeljaar – ‘n jaar waarin ons die bonus van ‘n hele,  volle dag kry om vir ons volk te woeker!

Elke mens kom in die lewe met ‘n hele mandjie vol talente en dit hang van elkeen van ons af hoe gewillig ons is om in daardie mandjie te delf en een vir een vergete, onderdrukte  of onontdekte talent uit te haal, af te stof,  te gebruik, te ontwikkel en bo alles te geniet.

Kom ons maak hierdie bonusjaar met sy bonusdag die jaar waarin ons elkeen ons ryke se├źn van talente gaan uithaal en aanwend tot heil van ons volk.

2016 het 366 dae. Daarvan is 52 Sondae waarop ons nie werk nie. Tel daarby Goeie Vrydag, Kersdag en Geloftedag en ons het ‘n hele 311 dae waarop ons mag werk en woeker.

Gestel elkeen van ons gebruik op elkeen van daardie 311 dae net ‘n halfuur om iets positiefs te produseer, dan het elkeen uiteindelik 155 uur en 30 minute. Dit gee jou 19,4375 dae. Teen 8 uur per werksdag, verteenwoordig dit nagenoeg 4 werksweke!
Dus, teen ‘n tempo van slegs ‘n halfuur per dag vir een jaar, kan jy ‘n volle maand se werk lewer vir jou volk se voortbestaan en heil!!!

Wat kan ek in ‘n skamele halfuur produseer, vra jy. Begin deur te kyk na jou einddoel: wat kan jy lewer gedurende ‘n maand van 8-uur werksdae? Sommer baie!  Begin by ‘n punt en lewer dan elke dag ‘n fraksie van jou eindproduk.

Dink aan ‘n tannie wat ‘n oumakombers hekel en elke dag net een blokkie voltooi. Na 311 dae het sy genoeg materiaal om ‘n hele paar klein lyfies warm te hou.
Of oom Sarel wat so behendig met sy knipmes sit en kerf. As hy elke dag net een klein houtlepeltjie kerf, kan hy na ‘n jaar darem heelwat uit daardie lepeltjies verdien.
Kunstige Katryn gebruik afvalmateriaal om klein popmeubeltjies te maak en haar boesemvriendin Antjie verf elke dag ‘n spoelklippie vir tuingebruik. Dit verkoop soos soetkoek op die mark!

Pennelekkers kan inspring en elke dag woeker aan daardie blitsverkoper wat steeds iewers skuil, terwyl diegene wat nog altyd gedroom het om ‘n lekker-luister liedjie te komponeer, nou daagliks daaraan kan skawe.

Dit alles, terwyl oom Kerneels getrou elke dag ‘n paar groentesaadjies in die beddings plant.

Ons is die nasate van hardwerkende, vernuftige mense wat soms die byna bomenslike vermag het vir die voortbestaan van hul geliefde volk. Wie is ons om net te sit en kerm en kla en aftakelende negatiwiteit uit te sprei? Kom, diegene wat gewillig is om hande uit die mou te steek, kom ons styg uit bo die moeras van negatiwiteit en woeker elkeen positief voort vir die heil van die volk.

Sukses is aansteeklik.
Kom ons maak ons bonusjaar ‘n jaar van groot sukses wat in die kleine begin is.

Bertha Albertyn