Grys Genade

Toe my ma in haar middel 90’s was, kuier ek op ‘n dag by haar. Hier kry ek die vroutjie met die groot gees en inmekaargetrekte osteoporose-lyfie besig om die een kombers na die ander te sit en brei.
“Dis vir die arme oumense van 70 in die aftree-oord,” sê sy. “Ek kry hulle tog so jammer.”
Nou hoekom kry sy hulle jammer? wonder ek. Tog sekerlik nie omdat hulle in die aftree-oord woon nie, sy was toentertyd immers die dryfveer agter die bou van die plek.
“Ag, die arme goed sit net en wag vir etenstyd, teetyd, etenstyd, slaaptyd. Hulle het niks om te doen nie, nou sit en krepeer hulle net,” voeg sy by terwyl die breinaalde blitsvinnig klik-klik.

Wanneer ‘n mens ouer word, beteken dit nie dat die grysstof van binne tussen jou ore nou bo-op jou kop uitgroei nie. Al verkreukel en verbleik jou verpakking, beteken dit nie dat jou gees daarbinne-in jou ook verlep nie. Jy is nog dieselfde mens met dieselfde talente en potensiaal, net nou het jy die bonus van ‘n rykdom van ondervinding bygekry!

Waarom wil jy dan nou op ‘n stoel gaan sit en al daardie wonderlike bates in ‘n kartondosie verpak en bo-op jou klerekas bêre?

Toe ons kinders op Kleindorp was, het ek gedink dis die norm dat as mense “aftree”, hulle op die stoep kan gaan sit en sokkies brei en koffie drink terwyl hulle die bure se doen en late met arendsoë dophou.

Dankie tog, die lewe het my geleer dat daar na “aftree” ‘n heerlike nuwe wêreld daar buite wag! Nou het jy die vryheid van tyd en die bate van ervaring waarin jy vrye teuels aan jou talente kan gee, kan jy soms nog meer produktief as voorheen leef!
Moenie die feit dat jy nou jou lewensruimte moes afskaal, die beperkte fisiese ruimte waarin jy nou leef, jou aktiwiteite ook laat beperk nie.

Dis nou die wonderlike fase in jou lewe wanneer jy uiteindelik die kans het om jou drome wat noodgedwonge maar altyd op die agtergrond geskuif is, te verwesenlik.
Jy wou miskien nog altyd studeer – studie is nie beperk tot jong mense nie.
Jy wou nog altyd jou familie se stories neerskryf – gryp nou jou pen.

Dis my wondelike voorreg om bevriend te kan wees met ‘n dame wat op 60 as argitek afgetree het en toe begin het om kuns te studeer. Op 92 is sy ‘n gerekende meester skilder en leef sy voluit met ‘n klomp ander belangstellings ook. Sy laat beslis nie toe dat die beperkte ruimte van haar huisie in die aftree-oord haar gees demp nie.  ‘n Positiewe, aktiewe mens – watter wonderlike inspirasie!

Moenie op 60 dink dat jy “aftree” nie. Noem dit liewer “uittree” of “verandering van beroep”.

Die wetenskaplikes sê dat ons nou al ouer en ouer word. Watter wonderlike voorreg om nog ekstra jare te ontvang waarin ons aan ons drome gestalte kan gee!

Niemand kan jou drome onteien nie.
Niemand kan jou talente, ervaring en werkspotensiaal onteien nie.
Niemand kan jou belet om op jou eie produktief te leef en sodoende bakstene te giet vir die bou van ‘n gesonde, sterk volk nie.

Dit is uiters selfsugtig van grysaards om nie hul vaardighede volgens hul beskikbare energie in te span en sodoende gesamentlik ‘n onomstootlike bydrae tot die welsyn van hul volk te lewer nie.

“Afgetredenes” wat besluit het om net te sit en rus, mis boonop die lekkerste jare van hul lewens.
Hier stem ek nie met my ma saam nie. Vir diegene wat net sit, brei ek sowaar nie komberse nie!!

Bertha Albertyn