Kultuurplundering is vernietigend

Die Redakteur

Tans is die verskuiwing van Totius (Jacob Daniël du Toit) se standbeeld van die Puk-kampus in die nuus. Dit is die gevolg van ‘n swart drukgroep, genaamd: ReformPUK se TotiusMustFall-beweging. Dié groep toi-toi al sedert Oktober oor die verwydering van die standbeeld.

Totius se standbeeld is aanvanklik in 1977 in die Totius-gedenktuin (aan Potchefstroom se Wasgoedspruit tussen Spruit- en Von Wiellighstraat) onthul. Hierna is dit in 2009 met die 140-jarige herdenking van die Puk se bestaan na die universiteitskampus verskuif. Destyds het die voormalige rektor van die Puk, prof. Annette Combrink, haar vir die verskuiwing van sy standbeeld na ‘n sogenaamde skrywerstuin beywer. Die standbeeld van Sol Plaatje dateer uit hierdie tydvak.

Die Totius-standbeeld se oorspronklike staanplek was ook in die onmiddellike omtrek van Molenstraat, waar die Totius-huismuseum is. Laasgenoemde was as ampshuis van die rektor deel van die Teologiese Skool waaruit die Puk ontstaan het. Trouens, die wortels van die Puk en in besonder sy Teologie Skool strek terug na Burgersdorp. Totius het ‘n sleutelrol gespeel in die verskuiwing van die betrokke instelling van Burgersdorp na die Voortrekkerdorp, Potchefstroom.

Die “toegewing” om Totius se standbeeld van die Puk-kampus te verskuif, is tekenend van ‘n algehele terugval na ‘n al hoe kleiner ‘grondgebied’ weens ‘n verval van alle instansies en alles wat voor 1994 tot stand gekom het. En hier wil ek aansluit by ‘n brief, “Puk-gebeure simptoom van epidemie”, wat ek in Maart vanjaar aan Die Vryburger geskryf het. Enkele uittreksels (met ‘n wysiging van die bewindstyd na 21 jaar) word hier gegee omdat dit relevant sal bly in die Afrikaner se geskiedenis.

“Wat tans by die Puk aan die gang is, is ‘n simptoom van al die siektes wat die afgelope 21 jaar in Suid-Afrika ‘n volskaalse epidemie geword het.

“Eintlik moet dit voor 1994 gaan haal word en om dit ‘n begindatum te gee, kan die Dakar-byeenkoms van ‘n klomp “Afrikaanses” in Julie 1987 met verteenwoordigers van die ANC gebruik word. Natuurlik strek die aanloop verder terug, maar die uitvloeisels daarvan is nou aan die orde.

“Die epidemie (of ‘n rewolusie soos die kommuniste dit noem) wat Suid-Afrika volskaals onder ‘n kommunistiese bewind teister, is die agteruitgang van die land weens die ondergang van instellings wat eens goed gewerk het en gewelddadigheid wat in ernstige misdaad en verwoestende protesbetogings manifesteer.

“Die Puk se Christelike karakter wat duidelik in sy simbole en sy lewensbeskoulike benadering weergegee en aan studente oorgedra is, is met die oorname van die ANC-bewind heel eerste op die kommunistiese altaar geplaas. As laaste vesting kom Afrikaans as voertaal, en alles wat dit sou onderskei van akademiese instellings wat roemloos in Suid-Afrika versink, nou aan die beurt.

“Die pionierswerk van die grondleggers en opbouers van die Puk, naamlik die bekeerde Jood, Cachet, die nederige geloofs- en volksman, Totius, en al hul Christelike opvolgers is ingeboet. Aan hierdie Christelike karakter het die Puk allereers sy ontstaan te danke en dit het die universiteit saam met akademiese uitnemendheid sy bestaansreg gegee. Hieraan was Afrikaans as moedertaal en die volksidentiteit van Afrikanerskap onlosmaaklik verknoop.

“Respek vir jou ononderhandelbare geloof en volkskap dwing ander se respek af want dit beteken daar is beginsels (‘n ruggaat) betrokke. Daarsonder beteken ‘n graad op die lange duur weinig en lyk die praktyk soos dit hom nou in Suid-Afrika afspeel.”

Oud-Puk

Pretoria