Geloftedag – Geloftevolk – Gelofteskuld

Op 9 Desember 1838 dra sowat 470 man hulleself, hulle gesinne en wordende volk, waarvan hulle pioniers was, op aan die beskikking van God – die enigste ware, Drieënige God wat ons, ware Christene, saam met ons voorsate gelowig bely.

Wanneer ons met dieselfde geloofserns as daardie manne na die Gelofte en bedoeling kyk, kan ons saam met een van ons erkende geskiedskrywers beaam dat “Die nimmereindigende debat oor die sin van die gelofte van 1838 kom tot niks. Dit is ´n valse debat … . Gewetensvrae daaroor kan gevolglik slegs in die lig van God se Woord verantwoord word.”

Saam met hierdie skrywer kan ons ook duidelik stel dat ons nie nodig het om die Gelofte te verdedig nie – dit is ´n historiese feit.

Maar hoe is dit gesteld met ons eie onderhouding van die Gelofte?

En ofskoon die bywoon van Geloftefeeste jaar-na-jaar weer oplewing toon, waarvoor ons dankbaar is, moet ons erken dat dit klaaglik kortskiet gemeet aan die beweerde omvang van Christenskap onder die Boere-Afrikaner.

Dit is dan nodig dat ook óns eerskomende Woensdag versigtig, eerlik-verootmoedigend sal dink oor ons eie Gelofteskuld.

Want ons land en ons volk is glad nie verniet in die donker drukgang waar ons tans verkeer nie!

Ons is nie net op 16 Desember Geloftevolk nie – slegs die dagviering is gekoppel aan daardie datum – ons is elke dag Geloftevolk en daarom moet ons lewe elke dag spreek van Gelofte-gehoorsaamheid.

Daarom – herdenk ons die Gelofte, gedagtig aan die besondere genade bewys aan ons volk?

Doen ons dit in die gees van dankbare eerbetoon?

Of vier ons ´n volksprestasie? ´n Herkoms-hoogmoed, vreemd aan ons voorsate?

Neig ons dalk om ´n horisontale versoenings-boodskap in te werk om “meer inklussief” voor te kom?

En hoe lyk ons lewens elke ander dag, elke ander Sondag van die jaar.

Hoe is dit gesteld met elke gestigte tempel van God in ons land?

Die koerantopskrifte sê tragies baie …

Hoe is dit gesteld met die kennis van en deelname deur ons opkomende geslagte?

Verstaan ons kinders die wydte en diepte van nie net die Gelofte en genade nie, maar wat ons as volk verskuldig is?

Min openbare skole leer nog die Geloftegeskiedenis – enige kompromis om nie aanstoot te gee nie!

Hieroor behoort elkeen hom- en haarself te ondersoek – en waar ons, deur die genadige beskikking van ons Here, vind dat ons deur klein pogings elke dag strewe na Geloftegehoorsaamheid, mag ons met vrymoedige vreugde ook hierdie besondere dag herdenk.

Waar sake dalk nie so rooskleurig lyk nie, kan ons ons opnuut verbind tot gehoorsaamheid eerskomende Woensdag.

Maar dan om met erns en volharding na beter gehoorsaamheid te strewe, nie in aangeplakte godsdienstig-emosionele gryp na ´n lewensboei nie.

Want die besondere genade van 16 Desember 1838 is eintlik klein teen daardie wonder-genade van verlossing en die geleentheid wat elkeen het om oor te begin, vir ons as Christene bewerkstellig toe ´n ander, groter vyand finaal verslaan is.

Want ´n Geloftevolk, Geloftedag het net betekenis in Christus, tot die eer van God.

Met erkenning aan:

Geloftesterk jou stand, ds Mossie van den Berg

My broeders en landgenote, prof H van der Wateren