Die Ef-EM vervreem verder

Geagte Redakteur

Ek luister lankal nie meer na die radio uitsendings van die gekaapte Radio Pretoria wat deesdae EF-EM genoem word nie, maar kon nie help om te hoor wat gaande is toe twee persone hulle lot beklae het teenoor mekaar nie.

Die een vertel dat as die advertensie uitgesaai word van Pretoria EF-EM wat onafhanklik Afrikaans is, dan speel hulle net daarna drie of vier snitte Engelse of Amerikaanse musiek.

Die ander een kla toe oor die omroepertjie wat hoegenaamd nie kwalifiseer as een nie, wat aankondig dat sy nie die Geloftefees geleenthede gaan uitsaai nie want daar is te veel van hulle.

Toe saai sy liewer uit van mense wat voetslaan in die natuur….

Dan is daar glo die een uiters onbekwame omroeper wat luisteraars aanspreek met “jong” so asof die luisteraars in die omroeper se tuin werksaam is, en het ook die nare gewoonte om die woord “baie” tot vier keer in een sin te gebruik, en dit gebeur soms in elke tweede sin wanneer hy verwys na die Engelse musiek wat hy so graag speel.

Eens op ’n tyd was dit ’n waardige radiostasie met uiters bekwame omroepers.

Kerneels Spaarsin