Voed nuwe “verligting” op die volksakker neo-rassistiese agenda?

In George Orwell se Nineteen Eighty Four kry die leser ´n toekomsbeeld geskoei op dwang, met onder andere ´n “nuwe taal” wat op die pilare van woordroof en teenoorgestelde betekenisse staan.

Ons sien iets hiervan in die ANC-SAKP se Nasionale Demokratiese Rewolusie.

Aldous Huxley skets ´n soortgelyke toekoms, maar geskoei op aanpassing by “nuwe werklikhede” – welliswaar op verskeie maniere, maar met die vertrekpunt van identiteitsverlies.

Ook hiervan sien ons toenemende tekens, uit oorde van talle organisasies wat die mite van ´n grondwetlike bedeling teen wil en dank verdedig.

Afrikaner” word toenemend uit daardie oorde omskryf as bloot ´n kultuurgemeenskap, so asof volk en volkstrots, volksidentiteit in 2015 “verkramp” sou geword het.

Ons mense word wysgemaak dat ons die “nuwe werklikheid” moet omhels en werkbaar uitbou vir ons kinders, terwyl hierdie “nuwe” SA uitdruklik gegrondves is op ´n grondwet wat die Boer en Afrikaner tot tweedeklas buitestaander verklaar.

´n Hele nuwe “new speak”, om van George Orwell te leen, word aan ons volk opgedis.

Enige element van ons volksidentiteit wat selfs net die geskape volkere-verskeidenheid erken, word afgemaak as ´n “hunkering na apartheid”.

Verder word die vorige bedeling (interessant genoeg besonder aktief ondersteun deur die destydse MWU) nou saam in die liberale koor verdoem – enige positiewe verwysing na afsonderlike ontwikkeling ontlok oombliklike verguising, natuurlik met welluidende woorde en ´n glimlag wat herinner aan ´n honger krokkodil.

Hierdie nuwe woordeskat, hierdie gedienstige verskraling van ons volk tot kultuurgemeenskap en stellings soos “Daarom fokus die beweging net op die Afrikaner-gemeenskap, hoewel dit “inklusief van ander rasse” moet wees” speel reg in die hande van die neo-rassistiese agenda.

Maar omdat woorde soos “vryheid”, “selfstandigheid”, “selfdoen” en “Afrikaner” kwistig gebruik word, sluk ons mense te maklik daaraan, sonder om die bitter “new speak”-gif betyds te eien.

Veldtogte word geloods teen ‘transformasie”, terwyl ons volksidentiteit stelselmatig tot kultuurgroep getransformeer word.

Ons kan ook tereg vra of “inklussief vir alle rasse” beteken dat “Afrikaner” nou her-definieer word om alle herkomste in te sluit?

Waarom word na ons volk as “Afrikane” verwys, terwyl daardie term duidelik dui op die inheemse volke.

Ons volk is inderdaad nou verweef met Afrika, en ons is gevorm deur hierdie kontinent en 350-plus jare van pionierslewe en die opbou van Suid-Afrika uit die woesteny wat ons voorouers hier gevind het.

Ons deel ons taal met baie, soos ons deur die eeue ons kennis, ervaring, arbeidsvrug en welvaart gedeel het met baie.

Maar ons is steeds Boere en Afrikaners, ´n unieke volk, en wat ons in medemenslike erbarming deel met ander, maak ons nie deel van ´n “nuwe nasie” nie.

Hierdie verdraaiing is niks anders as die herlewing van die “verlig-verkramp” aanslag teen ons volk nie.

Deur ons mense wys te maak dat ´n God-lose grondwet vir ons ´n toekoms inhou, is om ons van ons geloofswortels en diepste identiteit te vervreem.

Deur ons mense by herhaling te wys dat die gewaande “foute van die verlede” nie herhaal mag word nie, word die ANC-geskepte skuldgevoel subtiel versterk.

Uiteindelik is die enigste verskil tussen die regime se direkte haatveldtog, en die grondwet-koesterende self-misleiding die mate van dwang, en of volks-onderdrukking aktief of subtiel plaasvind.

Beide weë voed die neo-rassistiese agenda van die ANC en sy liberaal-humanistiese medestryders en medestaanders.