Tuisgemaakte smeerkaas

Dames hier is ‘n maklike tuisgemaakte smeerkaas resep wat nie baie bestanddele benodig nie. Dis vinnig en kan in die mikrogolf gemaak word. Die kaas smeer maklik en u kan dit ook in witsous gebruik. Dis vingerlek lekker op geroosterde broodjies.

 

Tuisgemaakte smeerkaas

 

Bestanddele:

 

375 ml melk

500 gr geprosesseerde kaas soos Bergkaas (dis ‘n sagte skerp kaas)

250 gr botter

2 ml aromat (opsioneel)

Metode:

 

Verhit melk en botter in mikrogolf-bestande diep bak.

Rasper die kaas en voeg by die warm melkmengsel en roer baie goed.

Sit terug in mikrogolf en verhit verder totdat al die kaas gesmelt het, roer kort-kort sodat die kaas vinniger kan smelt.

Roer aromat by indien u verkies.

Gooi uit in skoon botteltjies en laat afkoel en bêre in die yskas.

Wenk: U kan ook stukkies bacon braai en byvoeg voordat die kaas afgekoel het. Verder kan u ook bietjie speel met swart peper, kruie van u keuse, gesnipperde soetrissies of ui.