Sanguitvoering by Hartbeespoortdam

Die sopraan Henriet Fourie, wat ‘n aktiewe en veelsydige sangloopbaan in Chicago, VSA het, gee op Sondag, 13 Desember om 15:30 ‘n Afrikaanse Kunslieduitvoering saam met pianis Benjamin Fourie by MOOIBLY, ouditorium van Albrecht Holm, by Hartbeespoortdam, wes van Pretoria (GPS data S 25 dgrs 46,078′ E 27 dgrs 55,924’).

Die uitvoering sluit die Suid-Afrikaanse premieres van liedsiklusse van Dirk de Klerk en Etienne van Rensburg in, asook liedere van ouer komponiste soos S le Roux Marais, Arnold van Wyk, Cromwell Everson (komponis van die eerste opera in Afrikaans en vader van Ludwig Everson, eienaar van die Aardskip op Orania) en Pieter de Villiers.

Die program toon ‘n wye spektrum van wat komponiste in hierdie genre deur middel van Afrikaans vermag het en beloof om ‘n fassinerende en boeiende luisterervaring te wees. Toegang is R100 p/p en R80 vir persone ouer as 80, kinders en studente. Besprekings per SMS kan gestuur word na Albrecht Holm by 082 8216390.