Matriekvraestel uitgelek

‘n Skool in die Noord-Transvaal wat daarvan verdink word dat hulle verantwoordelik is dat die tweede vraestel van lewenswetenskappe in die matriekeksamen uitgelek is, sal nou onder eksamen-kwarantyn geplaas word. 

Volgens die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, het hulle Maandagoggend 06:00 verneem dat die vraestel uitgelek is.

Tydens ‘n mediakonferensie het sy gesê dat nadat hulle ondersoek ingestel het, het hulle vasgestel dat die inhoud reeds ‘n uur voor die eksamen om 09:00 begin het, bekend was.

Die Direkteur-generaal van die Departement, Matanzima Mweli, sal nou ’n taakspan aanstel om die voorval te ondersoek.

Die uitslag van die ondersoek kan tot gevolg hê dat leerlinge in die spesifieke skool die vraestel moet oorskryf, of leerlinge in die onderwysdistrik weer moet skryf of as laaste moontlikheid dat al die leerlinge in die provinsie die eksamen weer sal moet skryf.

Al die antwoordstelle van die skool wat nou in eksamen-kwarantyn geplaas is, sal nou geoudit word om die leerlinge wat gekul te identifiseer.

Die leerlinge wat gekul het sal deur die polisie vervolg word.