Man maand voor troue vermoor

‘n Jong Vrou wat op die 12 Desember met haar verloofde sou trou, is in rou nadat hy oor die naweek vermoor is.
Gavin Wolfswinkel (32) se laaste woorde aan sy verloofde, Nadia Treeby (33) was om die deur toe te sluit, toe hy uitgegaan het omdat hy onraad vermoed het.
Die paartjie het ‘n huis op ’n hoewe gehuur omdat altwee hartstogtelik lief was vir diere.
Daar is ’n elektriese heining om die hele perseel en dit is verbind met ’n alarm. Die huis het ook ’n draadheining en ’n alarmstraalstelsel.
Hulle was Sondag so tussen 20:00 en 21:00 gereed om te eet toe die grensdraad se alarm afgaan. Dit het gereeld gebeur as die wind gewaai het en Gavin het uitgegaan gewapen met ‘n mes en ‘n rottang. Die volgende oomblik het ‘n skoot afgegaan. Wolfswinkel is in die kop, agter die oor geskiet.
Die skote het van die klein heininkie se kant gekom. Die draad was geknip en die gras was platgetrap.
‘n Werker wat in ‘n buitekamer gebly het, is ook doodgeskiet.