Frankryk wil IS vernietig

Die Franse president, François Hollande, het in ’n maratontoespraak gesê die Franse Weermag sal die land se eer beskerm, en daarmee toesien dat die Islamitiese Staat (IS) vernietig word.

In die lig daarvan, gaan lugaanvalle op IS-basisse in Sirië uitgebrei word met die doel om die terroriste uit te wis.

Hollande sê Frankryk is amptelik in ’n oorlog gewikkel met die IS-terroriste, en om die aanvalle te verskerp, sal die vliegdekskip, die  Charles de Gaulle na die gebied gestuur word om die vliegtuie se aanvalle te ondersteun.

President Hollande het die inligting bekend gemaak tydens sy toespraak in die Franse parlement nadat die terreurdade in Parys plaasgevind het.

Hy het verwys na die moontlikheid om ’n koalisie te vorm met die Russe en die VSA om teen die terroriste op te tree, maar intussen sal Frankryk voortgaan met aanvalle op terroriste basisse in Sirië.

Pres. Obama van die VSA het intussen bekend gemaak dat die land ook soldate in Sirië en Irak gaan ontplooi in solidariteit met Frankryk.

Foto –  Pres. Hollande