Luiperdboom / Caesalpinia ferrea

Luiperdboom / Caesalpinia ferrea

 

Die Luiperdboom is een van ons pragtige bome om in ons groot tuine te plant. Caesalpinia ferrea is afkomstig van Brazilië en nie van Afrika nie. Die boom het soveel karakter met sy wit, bleek en bont lang dun stam. Luiperdbome groei regop en moet nie langs ‘n muur geplant word nie. Dis sommer al ‘n mooi boom al staan dit nog in die kwekery se sak geplant.

 

Luiperdbome is nogal delikaat met hul lang dun stam met takke wat van onder af uitspruit. Die roesbruin nuwe blare wat op die groeipunte van die takke uitspruit en die middelgroen ovaal blare verder langs die takke op, maak ‘n mooi vertoning. Die blare is egter ook baie delikaat en dit is dus nie ‘n diggroeiende boom nie en sal nie veel skadu verskaf nie. Hierdie boom is meestal ornamenteel. Indien u hierdie boom in u tuin plant sal ander plante wat nie in te digte skadu geplant moet word nie, goed groei onder hierdie bome.

 

Hierdie boom vertoon sommer mooi nog voordat dit uitgeplant is in die grond. Die bas van die Luiperdboom is bleek en sag en skilfer maklik af. Dit veroorsaak die donker kolle op die stam en vandaar dan die naam “Luiperdboom”.  Hierdie boom is geskik vir klein tuine. Dit word egter tot 15 meter hoog by die kusgebiede. Moeder natuur sorg dat die Luiperdboom wat in die binneland geplant is, nie te groot word nie want dit kan ryp en erge droogte nie verdra nie. By die kusgebiede ontwikkel dit ook agressiewe wortelstelsels. Hulle aard die beste by kusgebiede. Dit sal ook goed in groot potte groei, maar sal dan nie baie groot word nie.

 

Luiperdbome dra klein geel klokvormige blommetjies in die lente en nadat die blomme af is, vorm dit donker saadlobbe. Plant Luiperdbome in volson of ligte skadu. Indien daar ‘n paar van hierdie bome bymekaar geplant word in die tuin, vertoon dit amper soos ‘n mini-woud. Grondbedekkers groei en vertoon mooi onder hierdie bome. Plant dit in goed dreinerende sanderige grond. Wanneer die boompies klein is, moet hul genoeg water kry maar minder water wanneer hul reeds groot bome is.

 

Geniet u tuin tot volgende keer.