Suid-Afrikaanse boere trek na Kanada

Dit is nie van vandag dat daar van tyd tot tyd ’n klompie boere die vliegtuig vra om hulle in Kanada te gaan aflaai om te kyk wat die boerdery moontlikhede daar is nie.

Sedert die woelinge op landbougebied begin het, was daar deurlopend boere wat ondersoek gedoen het oor die moontlikhede in die land met sy lae temperatuur in die wintermaande.

Verlede jaar het sowat 28 boere hierdie groot en wye land besoek om te gaan kyk wat die potensiaal is.

Suid-Afrikaanse boere word beskou as die beste landbouers ter wêreld.

Martie Kruger wat as plaas-spesialis uit die omgewing van Reitz in die Vrystaat uit beweeg het en vandag in die groot stad Brandon in Kanada woon, is terug in Suid-Afrika en lig boere in van die omstandighede en reuse moontlikhede wat die gebied inhou.

Die nywerheidsgebied van Brandon het meestal ’n aanknopingsplek met die landbou, en daar is tans verskeie boere uit Suid-Afrika wat met groot sukses boer in die vreemde land.

Sy het verskeie vergaderings gehou in verskeie Oos-Transvaalse, Wes-Transvaalse en Vrystaatse dorpe waar sy boere toespreek en inlig oor toestande en moontlikhede.

Sy sê die eerste vraag op almal se lippe is die koue klimaat.

Dan wys sy daarop dat alhoewel die winters koud is en die temperatuur tot dubbelsyfers onder vriespunt daal, is daar in die staat Manitoba, waar sy woon, byna net soveel sonskyndae as wat Suid-Afrika bied, en geniet die boere die buitelewe net soos hier in die sonnige Suidland.

Manitoba is die provinsie wat reg in die middel van Kanada geleë is.

Die groeityd is 90 dae omdat die dae lank is in die somermaande, want die son skyn reeds om 5:30 en gaan vanaand om 22:30 weg agter die horison.

Kanada is landbou vriendelik, en mielies, koring, sonneblom, sojabone en lusern word uiters winsgewend verbou.

Die melkplase is groot en baie winsgewend, terwyl aartappel en ander groentesoorte spesialisbedrywe is wat groot potensiaal bied.

Kanadese eet nie skaapvleis nie, en daarom is dit nie ’n goeie boerderybedryf om te oorweeg nie, maar beesboerdery is ’n wenner, sê sy.