Ons heerlike grenadellas

Daar is seker bitter min mense wat nie lief is vir die smaaklike grenadellavruggie of sappie nie? Grenadella word ook die passievrug genoem en die geleerde naam is Passiflora edulis. Hierdie plant is uit die familie Passifloraceae en die rang is Malpighiales. Passiflora edulis kom oorspronklik van Brazil, Paraguay en Noord Argentina.

Soos ons weet is dit  ‘n rankplant en dra die mooiste blomme. Die blomme van die grenadellaplant hou meestal nie langer as een dag nie. Na die blomtyd in die somer, dra dit die wonderlike donkerpers vrugte wat die heerlikste vrugtesappe maak. Grenadellas is ryk aan vitamine, kalsium, yster, magnesium, sink en nog vele meer voedingswaardes.

Dit is ook sommer eie aan Suid Afrika en groei baie maklik in ons klimaat. Om dit teen ryp te beskerm is die beste plek om grenadellas te plant, aan die noordekant van die huis. Hierdie plante kan net ligte ryp hanteer. Sommige van hierdie rankplante dra ook geel vrugte, maar dit is baie suurder as ons pers grenadellas.

Snoei grenadellas gereeld in die lente terug en dun dit goed uit as dit baie dig en oorgroei raak. Sny die sytakke tot omtrent 40 cm lank. Indien u die heerlike vrugte wil geniet voor die winter, moet dit nie later as die lente snoei nie.

Hoewel die Passiflora edulis as indringer gelys word, mag ons dit oral in die dorpstuine plant, die vrug self is nie gelys nie, solank dit vir huishoudelike gebruik is. Daar sal kwekerye wees wat die plante te koop aanbied. U kan gerus ‘n plantjie gaan koop en teen ‘n boom met ‘n lang kaal stam plant en van die vrugte geniet. Dit dra oorvloedig wanneer hulle begin. Dit word ook nogal gou ryp en val gewoonlik nog voordat hulle ingekrimp het, van die ranke af. Grenadellaplante kan enige tyd van die jaar geplant word in goed dreinerende grond. Gee hulle genoeg water in die blomtyd anders val die blomme af en u sal nie ‘n vruggie kan geniet nie.

 

Tuiniers, probeer gerus een grenadellaplantjie kry en plant dit. U sal beloon word met baie vrugte en die ranke vertoon mooi met die gepunte blare.

 

Geniet u tuin tot volgende keer.