Emfiseem verlig met nuwe tegnologie

Mnr. Robbie Faux (65) van Johannesburg was aangenaam verras toe hy verneem dat hy in Duitsland verligting kan kry vir die erge emfiseem waaraan hy ly.

Nog groter was sy verrassing toe hy later vasstel dat dieselfde tegnologie tans in Suid-Afrika beskikbaar is om verligting te bring.

Hy was vas van plan om Duitsland toe te gaan vir die unieke prosedure wat daar aangebied word.

Uiteindelik het hy in die Mediclinic Panorama se hart-en-long-eenheid beland, en na ’n maand se behandeling kon hy vir ’n eerste keer in baie jare, kommervry rond beweeg sonder enige probleem.

Hy sê voor die behandeling moes hy na klein entjies se stap, eers sit om sy asem terug te kry.

In dié nuwe prosedure word dun metaal-spirale in die longe geplaas om klein lugweë oop te hou wat die elastisiteit van die longe verbeter en sodoende die asemhaling vergemaklik, en ook keer dat die longe platval, sê dr. Johan Theron van die Mediclinic.

Dr. Theron en prof. Koegelenberg, ’verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, doen saam die prosedure, wat aanvanklik in Duitsland ontwikkel is.

Die prosedure word binne ’n uur gedoen, deur ’n buis met ’n digitale kamera aan die voorpunt (brongoskoop

Dié kamera neem ’n video en X-straalfoto’s en die chirusrge sien alles in die operasiesaal op groot skerms.

Die spiraal word deur ’n dun buis in die longe geplaas. Tot soveel as tien spirale kan geplaas word, maar net een long word per geleentheid gedoen.

Die pasiënt word die volgende dag ontslaan, en na ’n maand word die tweede long gedoen.