Binnelandse Sake verkort werksure

Die Departement van Binnelandse Sake het besluit om die werksure gedurende weeksdae te verkort en in die toekoms sal die kantore van 8 uur soggens tot 4 uur die middag oop wees.

Saterdae sal die kantore soos voorheen, van 08:30 tot 12:30 oop wees.

Om seker te maak personeel is op “volle sterkte” gedurende die kantoorure, gaan ’n skofstelsel glo in werking gestel word.

Mkuseli Apleni, direkteur-generaal van die betrokke Departement, sê die nuwe tye gaan kliënte, beamptes en die organisasie tot voordeel strek.

Die bedoeling is glo om in die oorblywende tyd wanneer die kantore gesluit is vir die publiek, interaksie te verkry tussen bestuurders en personeel oor dienslewering en ander knelpunte wat mag ontstaan.

Waarnemers sê die reëling is klaarblyklik daarop gemik om die laatkommers en vroeg lopers hok te slaan, wat in die afgelope paar jaar ’n al groter probleem geword het in die Departement.

Dit blyk ook dat personeel lukraak dae weggebly het van die werk in ruil vir ’n Staerdag-skof, en op die manier ’n halfdag minder per week gewerk het.

Personeel het in so ’n mate ’n kultuur van wegbly en rondloop gevestig dat sommige kantore dikwels nie dienste kon lewer aan die publiek nie, en klagtes oor die aangeleentheid het niks opgelewer nie.

“Ons wil verseker dat daar binne gestelde kantoorure ’n volle skof aan diens is”, het ’n woordvoerder later gesê.