Dr. Wouter se stryd duur voort

Dr. Wouter Basson se stryd om nie van die mediese rol geskrap te word nie, duur voort en sy regsverteenwoordiger, adv. Jaap Cilliers SC het in die Hooggeregshof in Pretoria gesê dit is absurd en onbegryplik dat twee lede van die tugkomitee wat dr. Basson skuldig bevind het, nou weier om te sê of hulle lede is van organisasies wat ’n petisie onderteken het.

Adv. Cilliers wou weet of die twee lede van die komitee verbintenisse het met organisasies wat ’n petisie onderteken het ten gunste van skorsing van Basson.

Dr. Basson se regsverteenwoordigers het ’n dringende aansoek by dié Hooggeregshof van Pretoria ingedien om proff. Jannie Hugo en Eddie Mhlanga, beide verbonde aan die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) se professionele en gedragskomitee te beveel om besonderhede te verstrek rakende hulle lidmaatskap by enige organisasie wat die petisie onderteken het.

Die petisie wat aan die einde van November 2014 by die RGB se ondersoek ingedien is, verleen steun vir verswarende straf dat dr. Basson geskors word.

Regter Bert Bam sal glo Vrydagmiddag uitspraak lewer in die aansoek van Basson.