Die Kremetartboom of boabab

Die kremetartboom is seker een van ons pragtigste bome in die land. As ons om ons kyk na allerhande soorte bome, dan sal ons sien dat hul min of meer dieselfde fatsoen het. Net die kremetartboom se fatsoen is heeltemal buitengewoon en hy word ook die “onderstebo boom” genoem deur sekere mense. Die naam pas nogal goed omdat dit omtrent lyk of die wortels bokant die grond op ‘n dik stam sit, veral wanneer die boom sy blare verloor het. Bronne beweer dat die boabab of kremetartboom hul vorm self so verander het in droë en baie warm streke, sodat hulle makliker kan oorleef.  Dit is regtig ‘n natuurwonder.

Die plaaslike kremetartboom kom natuurlik oral in Afrika, Australië en Madagaskar voor. Die stam is monsteragtig groot met ‘n deursnee heeltemal buite verhouding met sy hoogte. Kremetartbome het ‘n baie ronde dik stam en vorm rolronde vorm  wat boontoe afdun soos ‘n bottelnek en dit dien as ‘n waterreservoir vir die dorre tye. Daar word ook beweer dat die grootste bome byna duisend vate water kan bevat en hierdie water kom van die wortels af wat ‘n enorme horisontale stelsel onder die grond vorm om elke druppel water op te raap.  Die eienaardige vorm van hierdie reuse bome laat ‘n mens nogal aan ‘n prehistoriese monster dink.

Daar word beweer dat die kremetartboom nie van steggies gekweek kan word nie en saad van die kremetart is ook nie juis ‘n sukses nie weens onvoldoende volg. By kwekerye sal u wel boompies te koop kry. Indien u dit probeer plant met saad, sal dit baie water nodig hê vir ontkieming.

Die takke wat bo-aan die stam uitsprei lyk meer na wortels. Verdeelde blare sit aan takkies aan die groot takke. Die boom dra natuurlik groot wit blomme met meeldrade wat hang aan lang, touagtige stingels soos lanterns. Die blomme gaan snags oop en dan ontwikkel die kremetartblomme vrugte wat houtagtig voorkom met geelgroen wollerige hare waarin daar sade lê wat met wit pulp omhul is. Die pulp is smaaklik en dit is waar ons kremetart vandaan kom wat ons in gebak gebruik. Dit smaak suur en indien u van hierdie omhulde pitte net so suig, is die pulp glad in die mond en regtig suur. Bobbejane in die bosveld is baie lief vir die pulp.

Kremetart kan gebruik word vir die behandeling van sommige nierkwale en koors. Dit word deur baksters gebruik om melk gou dik te laat word indien ons nie karringmelk kan kry nie. Die bas is ook ‘n plaasvervanger vir die geneesmiddel kinien. Daar word ook genoem dat die vrugte en saade in seep en kunsmis gebruik word. Papier, verpakkingsmateriaal, doek en tou kan van die basvesels gemaak word. Die hout van die kremetartboom is te sponsagtig om eintlik as timmerhout te dien, maar die dik stamme word soms uitgehol om kano’s en vlotte van te maak.

Hierdie boom neem egter baie jare om volwasse te word. Plant dus gerus een in u tuin vir die nageslag. Tuiniers geniet elke boom wat u plant en dink aan die heerlike skaduwee wanneer dit groot is.

Tot volgende keer.