Dagga-boetiek lewer toe verassing

Toe die Valke-eenheid toeslaan, was daar nie minder as 13 skilpaaie besig om hulle te verlustig in die gesogte boetiek-daggaplante by ’n ultra-luukse woonhuis aan die Oos-Rand in Sentraal Transvaal.

Clifford Alan Thorp (57) is deur die Valke by sy huis in Beitstraat, Boksburg, gearresteer toe hulle op ’n hidroponiese dagga-kweekhuis afgekom het.

Die Valke se spesialis-eenheid op dwelmmiddels het op inligting gereageer wat hulle na die spoghuis gelei het waar die verdagte gearresteer is.

Leë planthouers, spesiale beligting, uitsuig-waaiers is op die perseel gevind wat daarop dui dat die bedryf reeds geruime tyd doening is.

Dié kragtige boetiek-dagga is sowat ses tot sewe keer sterker as dit wat in die smokkelhandel beskikbaar is en wat meestal op straat gesmous word.

Die sterker weergawe is bedoel vir welaf sakemanne en word ook deur bendeleiers gebruik om hulle beursies stywer te maak, en word deesdae ook met andr geure gemeng om dit nog meer “gesofistikeerd” te maak.

Selfs die name van die produkte word in styl geskryf. Van die bestes is Northern Lights, , Nigerian Kush en Super Cheese.

Die Valke het ook beslag gelê op 450 gm gedroogde dagga wat bekend staan as Dark Devil Auto- en LSD-varian wat teen meer as R200 per gram verkoop word.Een daggaplant wat onder die gunstige omstandighede verbou word, lewer sowat 450 gm goeie dagga, wat dit ’n uiters winsgewende bedryf maak, alhoewel die aanvanklike koste om die hidroponiese stelsel en toerusting te bekom vir verbouing ook ’n aansienlike kapitale uitleg is.

Thorp het blykbaar ’n boete van R750 betaal omdat hy die skilpaaie onwettig aanhou in gevolge die Wet op Bedreigde Spesies.

Hy bly in aanhouding en sal binnekort in die hof in Boksburg verskyn op aanklag van verskeie dagga-oortredings.