Kankerbossie / Sutherlandia frutescens

Kankerbossie of Sutherlandia frutescens is in die familie, Fabaceae, dit is die ertjiefamilie. Die Sutherlandia frutescens kry sy naam van James Sutherland wat die bossie in1863 in die botaniese tuin in Edenburg, Skotland gekweek het. Die volksnaam is kankerbossie, hoenderkleok, gansies, bitterblaar, eendjiebos, kiepiebos of kankerklappertjie. Dis sommer ‘n klomp oulike name. Die plant kom wydversrpeid voor in Suid-Afrika. Dit is ‘n geharde plant.

Kankebossie is ‘n struik met bitter, aromatiese blare en oranjerooi blomme wat in die lente tot middelsomer blom. In sommige gebiede blom hy alreeds vanaf Julie.Ongelukkig blom hulle net een maal per jaar. Die blommetjies is ertjie-agtig. Die trosse rooi blomme word gou vervang deur opgeblase lang peule wat eers liggroen is en as dit droog word, is die peule gryswit en dit voel soos papier. ‘n Maand later, as die peule droog is, ratel dit behoorlik as die wind sterk waai. Die peule bevat klein ronde swart saadjies wat orals deur die wind versprei word en so kom hulle by dosyne weer op.

Die blare van die bossie is grys/vaal tot groen. Kankerbossie het harige loof. Hierdie struik groei bosvormig en ons vind dit in sandslote waar hy nie versteur word nie. Kankerbossie word tot 3,5 meter hoog. Dit word nogal dikwels opgemerk op die skouers van teerpaaie.

Dis baie voordelig om kankerbossie in ons tuine te plant. Dit het heelwat medisinale waarde. Die kankerbossie is ‘n kruid met ‘n diepgaande uitwerking op die liggam se energiestelsel. Dit stimuleer ook ons immuunstelsel en kan as anti-depressant dien. Die Khoi het ‘n tee van die blare en takkies gemaak en gebruik om wonde mee te ontsmet en het dit ook gedrink en die vruggies gekou vir maagkwale. Daar word ook beweer dit help vir verkoues, niersiektes, spatare, suikersiekte, rumatiek, ens. Sommer ‘n voordelige kruid om in die tuin te plant.

Dit word tans in tabletvorm by apteke verkoop. Daar word beweer dat dit ook help vir die behandeling van vigs en word ook deesdae die vigs-bossie genoem. Die tee wat gemaak word van die kankerbossie is effens bitter en dit is raadsaam om ‘n skyfie suurlemoen by te voeg en dan yskoud te drink. Onthou egter dat daar nie saam met kruiemedikasie alkohol en ander medisyne gebruik moet word nie. Raadpleeg altyd u geneesheer alvorens u enige kruiemedikasie gebruik, veral saam met reeds voorgeskrewe medikasies.

Kankerbos is by kwekerye te koop en die mark daarvoor is onversadigbaar. Tuiniers, geniet u kruie en u pragtige tuin in die tyd met die besondere heerlike reën wat oral uitgesak het. Tot volgende keer, beweeg onder die skaduryke bome in u tuin, dis heerlik!