Klein begin, groot koste

Die veiligheidstonnels wat by die Nkandla-landgoed van pres. Zuma aangebring is, was aanvanklik bedoel om slegs ’n soort van ontsnappingsroete te wees in tye van gevaar.

Die nederige poging het egter gegroei tot ’n reuse projek wat ’n volle R20 miljoen gekos het om in te rig, en vergelyk glo redelik goed met dieselfde tipe ontsnappingsroete wat by die presidensiële woning in Kaapstad ingerig is.

’n Kenner sê dit is nodig dat die werklike feite onthul moet word, en is dankbaar vir ’n kundige wat verbonde was aan die Departement Openbare Werke wat nou na vore getree en sekere feite bekend gemaak het.

Benewens die sogenaamde ontsnappingsroete, of tonnel, is daar ook ’n “bunker” ingerig wat beteken dat belastingbetalers lewenslank vir die luukshede se instandhouding sal moet betaal.

Ook die swembad, wat glo vir twee redes aangebring is, sal die belastingbetaler se verantwoordelikheid bly om in stand gehou te word. Eerstens is dit aangebring as waterbron om ’n brand te bestry wat mag uitbreek, en kan ook as swembad geniet word terwyl dit beskikbaar is.

Dit blyk dat die ontsnappingsroete ’n netwerk van tonnels is wat die president se woning ook met drie van sy ander vroue se huise verbind en die “bunker” is ingerig sodat hy vir ’n tyd lank daar kan woon in geval van nood.