Groot deurbraak met Parkinson-siekte

Wetenskaplikes kon daarin slaag om Parkinson-siekte in rotte om te keer en beoog om teen 2017 met soortgelyke toetse op mense te begin.

Die navorsers het stamsel-oorplanting gebruik om die siekte om te draai deur beskadigde senuwees te vervang met nuwe motorneurone wat hulle met dopamien geprogrammeer het. Die afwesigheid van dopamien is die ‘skuldige’ wanneer daar ‘n gebrek aan beheer oor spiere is by Parkinson-pasiënte.

Nadat embrionale stamselle gebruik is om die geaffekteerde senuwees in rotte te vervang, het die diertjies begin normaal beweeg. Hulle dopamienvlakke het binne die bestek van vyf maande heeltemal herstel. Die resultate van die navorsing is onlangs in die tydskrif, Cell Stem Cell, gepubliseer.

Tans is daar geen genesende behandeling vir Parkinson-siekte nie. Dit is ‘n progressiewe siekte wat ernstige gestremdhede veroorsaak en ‘n lyer se lewensverwagting weens komplikasies verkort. Alhoewel dit nie ‘n dodelike siekte is nie, verminder dit pasiënte se lewenskwaliteit aansienlik.

Die sukses om die siekte in rotte om te keer het navorsing ‘n groot sprong vorentoe laat neem.  Wetenskaplikes is baie opgewonde oor wat een navorser beskryf het as ‘n “yslike deurbraak in die veld”.