Nie-optrede teen onwettige krag is diskriminerend

Die reg op gelyke behandeling word van die Kempton Park-metroraad geëis deur op te tree teen onwettige elektrisiteits-aansluitings, veral in plakkerskampe. 

Die raad het erken dat sowat 80% van die aansluitings in Thokoza onwettig is. Dit kos die raad sowat R30 miljoen per jaar aan verliese weens die onwettige aansluitings of wanneer elektrisiteitsmeters omseil word.

Dit is egter hoog tyd dat almal oor dieselfde kam geskeer word, meen mnr. Izak Bergh, ‘n raadslid van die onafhanklike belastingbetalersvereniging in die Kemptonparkse-metroraad.

Die raad het in ‘n verklaring gesê die toedrag van sake kan nie meer geduld word nie en het gewys op die gevare van onwettige aansluitings vir inwoners en vir werknemers van die metro wat dit moet verwyder.

Mnr. Bergh sê geen melding word van enige stappe gemaak wat daaromtrent gedoen gaan word nie en dit is ’n bewys dat daar geen wet en orde in Kemptonpark is nie. Indien daar nie teen hierdie mense wat krag steel opgetree gaan word nie, sou dit neerkom op diskriminasie en selfs rassisme, meen hy. Mense wat krag steel, moet aangekla word. Daar kan nie van gewone inwoners verwag word om die misdadigers te onderhou nie, het hy benadruk.

Die opposisie in die raad het ook hul skok uitgespreek oor die feit dat die metro bewus is van die situasie, maar skynbaar nie die politieke wil het om iets daaromtrent te doen nie.

In Tembisa betaal 100% van die inwoners hul elektrisiteit omdat die metro seker gemaak het inwoners kan nie elektrisiteit steel nie. Dieselfde moet ook in Thokoza gedoen word, word geëis.

Die metro gaan R12 miljoen spandeer om die elektrisiteitstelsel op te gradeer en ‘n verdere R20 miljoen sal gebruik word om meters vir vooruitbetaalde krag te installeer.

Die metro sê daar is gereeld kragonderbrekings omdat onwettige aansluitings die netwerk oorlaai en substasies laat uitbrand.