Krugergenootskap herdenk sy stigtingsdag

D:Projekte dataDe la Rey'sDe la Rey's ProjekteKultuurskatteza-trans.gif

Gekurfde lint boontoe: Die Krugergenootskap 1939-2014 

 

 

 

 

 


                                                                                                         

 

Op 9 Augustus 1939 word Die Krugergenootskap gestig, nadat dit voorheen as ´n sub-komitee van die Afrikaanse Kultuurraad van Pretoria funksioneer het, bekend as die Kruger Komitee.

Daar is betreklik kort na die begrafnis in 1904 begin met die gereelde herdenking van Staatspresident Kruger se verjaardag op 10 Oktober jaarliks.  Teen 1931 was daar reeds ´n Krugerdag Komitee werksaam in Pretoria, welke teen ongeveer 1935/36 onder die Kultuurraad ingeskuif het.

Sedert 1939 word die jaarlikse vieringe in Pretoria deur die Genootskap gekoördineer en aangebied.

In die jare wat Afrikaner nasionalisme gedy het, was die verrigtinge op skaal wat min van ons jonger volksgenote al aanskou het.

Parades, nasionale volksleiers as sprekers en bywoning wat uiteraard aangehelp is deur sowel die nasionale bewussyn as die vakansiedag-status wat 10 Oktober geniet het.

Ongelukkig het ook hierdie luisterryke byeenkoms die veranderde omstandighede in ons land en onder volksgenote ten prooi geval.

Nogtans kyk die bestuur met dank terug oor 75 jare van seën en genade, soos dit hoort in die Genootskap wat die naam van Stephanus Johannes Paulus Kruger dra en sy gedagtenis herdenk.

In die woorde van ´n latere Staatspresident, C.R. Swart, gedenk ons hierdie volksheld (en ander) “. . . nie in hul persoon of hul amp nie, maar oor hul geestelike erflating, hul voorbeeld en gelewerde volksdiens, die rigtinggewende padwysers wat hulle opgerig het

Ander hoogtepunte uit die geskiedenis van die Genootskap sluit in die noue samewerking met die Nasionaal-Kultuurhistoriese en Opelugmuseum in Pretoria en die Krugerhuis Museum in Kerkstraat.

Terwyl ons steeds dankbaar is vir die bewaring van Kruger gedenkwaardighede deur hierdie instansies, het slegs Die Krugergenootskap in volkshande behoue gebly, nadat hoofstroom kultuurliggame in die 1990’s klakkeloos die Afrikaner se kultuur-historiese erfenis in volksvreemde laat oorgaan het.

Seker die mees bekende hoogtepunt was die ywer vir verskuiwing van die Kruger standbeeld na Kerkplein. Die veelbewoë geskiedenis van hierdie standbeeld-groep word pragtig vertel in die boekie “Geskiedenis van die Krugerstandbeeld” deur J.H. Breytenbach.

Ten spyte van jarelange teenstand uit Engelse kring, selfs belangeloosheid deur die Stadsraad (politieke eiebelang is niks nuut nie!) is die beeld uiteindelik verskuif gedurende 1953 en amptelik onthul op 10 Oktober 1954.

Die belangrikste bydrae van die Genootskap, in die bestuur se oorwoë mening, is die jaarlikse herdenking, spesifiek die karakter van gelowige dankbaarheid waarvan verrigtinge en die dankdiens spreek. 

Soos Paul Kruger se lewenswandel gespreek het in lewe, wil ons dit steeds laat spreek tot sy volk in 2014 en verder!

Soos Paul Kruger se hart en huis oop was vir elkeen van sy volksgenote, probeer die Genootskap die vieringe elke jaar so insluitend as moontlik verloop en is elkeen wat hom met die Afrikaner se saak identifiseer, welkom.

En soos Paul Kruger se openbare lewe gespreek het van gelowige volksdiens, wil die Genootskap ook daardie waardes oordra aan elke geslag opkomende Afrikaner

In 2014 wil ons ook uit die laaste boodskap van ons grootse volksleier tot elkeen van ons volksgenote die volgende belangrike boodskap rig, in die ou Staatspresident se woorde:

Vergeet nooit die ernstige waarskuwing wat lê in die woorde “verdeel en heers” en sorg dat hierdie woorde nooit op die Afrikaanse volk van toepassing sal kan wees nie.  Dan sal ons volk en ons taal steeds bloei.”

 

Nms: Die Krugergenootskap

9 Augustus 2014

 

Ons herinner graag aan die jaarlikse verrigtinge op Vrydag 10 Oktober 2014:

           

                Kranslegging by die Kruger-standbeeld om 14:30

            Kranslegging in die Heldeakker, Kerkstraat-Wes, om 15:30

            Dankdiens in die Paul Kruger kerk, h/v Potgieter en Kerkstrate, om 17:00

            Koffiehuiskonsert in die kerksaal, ter viering van ons 75ste bestaansjaar, vanaf 18:00