Swartes se vrugteplaas bankrot

’n Bekende vrugteplaas, wat eens op ’n tyd groot winste aan sy eienaars gelewer het, en uiteindelik ’n swart bemagtigingsprojek geword het, is op die punt om gelikwideer te word.

Die Bambanani-vrugteplaas, in die Vereeniging distrik lewer sy produksie aan Pick ’n Pay en aan Spar, en was eers die eiendom van ’n myngroep, maar is later as ’n Swart bemagtigingsprojek aan Bambanani Farming Operations verkoop vir sowat R16 miljoen.

Die Departement van Landelike Ontwikkeling het die nuwe swart eienaars aanvanklik gehelp met R4 miljoen.

Daarbenewens het Bambanani gedurende die afgelope twee jaar ’n toelae van sowat R38 miljoen van die Departement van Landelike Ontwikkeling ontvang.

Te midde daarvan is die bedryf in November 2013 in ’n sake-reddingsprogram geplaas omdat die bedryf net nie instaat was om sy krediteure te betaal nie.

Die tevergeefse pogings om die bedryf van ondergang te red het uiteindelik daartoe gelei dat likwidasie nou as enigste moontlike opsie beskou word.

Die onderneming het ’n krediteure skuldlas van R20 miljoen wat aan sowat 23 eisers verskuldig is.

Ingeligte waarnemers sê dit is opvallend dat die twee groot kettinggroepe uit hulle pad gegaan het om die bemagtigingsgroep se produkte aan te koop, ten spyte van die lae gehalte wat meestal gelewer is.