Skokkende verval van Voortrekkermonument by Winburg

Die verval van Voortrekkermonument-terrein op Winburg die afgelope paar jaar onder ANC-bewind word as “skokkend” beskryf.

     Die geboortehuis van pres. M.T. Steyn is vlak by die monument.  Die besturende direkteur van die Erfenisstigting, genl.maj. Gert Opperman, het gesê mense maak vuur in sy geboortehuis en die opsigtershuis is vernietig. “Die dak en vensters en ‘n buitegebou is ook al gesteel.” Volgens hom strek die verwaarlosing reeds oor ‘n tydperk van vyf jaar. Hy meen die Steyn-huis kan net sowel geskuif word omdat dit soos dit nou daar uitsien, nie tot sy reg kom nie.

    ‘n Sakeman van Winburg, mnr. Leon van Straten, sê die verval van die monument laat dit voel “of ‘n deel van jou vernietig is.” Hy is van mening dat die R1 miljoen verlede jaar vergeefs bestee is op verf en die opknapping van toilette. Daar is geen water nie en al die elektriese kabels is al gesteel.

    Hy het verlede jaar toestemming by die Vrystaatse departement van sport, kuns en kultuur toestemming gekry om die terrein op te ruim. Die huis is onder die betrokke departement se beheer. Hy vertel dat hy en ‘n groep mense skoongemaak het, gras gesny en ander werk gedoen het. Toe hulle egter weer daar kom, het die wagte die slot wat hy aangesit het, afgehaal en met ‘n ander slot vervang.

    Genl.maj. Opperman sê R5 miljoen sal aan herstelwerk bestee moet word, en die miljoen wat verlede jaar bestee is, is eintlik tot niet. Opperman sê die Nasionale Erfenisstigting probeer reeds ses jaar om die terrein oor te neem, “maar soos hy nou lyk, is hy eintlik vir ons verlore”.

    Hy sê die huis word deur die opsigter opgepas, maar geen uitstallings of ander aktiwiteite word daar gehou nie.  “Niemand kom ooit meer op die terrein nie.”

*Dr. Jackie Grobler skryf: “Dat daar ‘n Voortrekkermonument by Winburg opgerig is, is grotendeels te danke aan die belangrikheid van hierdie omgewing in die tydperk van die Groot Trek,” in die boek – Monumentale Erfenis. ‘n Gids tot 50 Afrikaner-gedenktekens.