Kyknet kry stywe boete

Die omstrede Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (OKOSA) het die TV kanaal Kyknet met R30,000 beboet nadat ’n klag ontvang is dat die spot gedryf word met ’n siektetoestand bekend as Tourette-sindroom.

Die spottery het glo voorgekom in ’n komedie-program bekend as Proesstraat.

Kykers het van oral klagtes ingedien, en talle mense het gesê hulle is van plan om Kyknet se aanbiedinge te boikot, terwyl ander gesê het hulle kyk nie meer na die ligsinnige program nie.

Die hoof van Kyknet, Karen Meiring sê daar is teen die bedrag geappelleer aangesien dit ’n buitensporige boete is.

Sy het egter gesê dat daar voortaan met groter verantwoordelikheid opgetree sal word.

Die Uitsaaiklagtekommissie het in sy uitspraak gesê die program het die menswaardigheid van Tourette-sindroom lyers aangetas.