Herwinning word deel van ekonomie

Vir die eerste keer in 20 jaar het die ANC nou ook ontdek dat daar geld uit herwinning te maak is. Die herwinning van afval kan jaarliks sowat R50 miljard tot Suid-Afrika se ekonomie bydra en gaan nou ’n verpligte deel van die land se ekonomie word. 

Dié woorde het Edna Molewa, Minister van Omgewingsake, tydens ’n media onderhoud in Pretoria gesê voordat sy haar begrotingstoespraak in die parlement gelewer het. 

Molewa het daarop gewys dat die Wysigingswetsontwerp op Afvalbestuur verlede maand in werking getree het. Dit baan die weg vir die Departement van Omgewingsake om nou ’n “aggressiewe benadering” tot afvalbestuur te volg. 

’n Afvalbestuursburo sal binnekort op die been gebring word om die proses aan die gang te kry en te bestuur en die finansies te hanteer. 

Suid-Afrikaners het afval tot nou toe nie na waarde geskat nie en die regering het die beginsel van die besoedelaar wat vir sy dade beboet moet word tot dusver nie konsekwent toegepas as integrale deel van die ekonomie nie, het sy gesê.

Die skep van waarde en werksgeleenthede in die afvalsektor is deel van die departement se inisiatief om die groen ekonomie te bevorder. 

Sy het verwys na die welslae wat in 2002 met die herwinning van plastieksakke bereik is en gesê die volgende op die regering se voorkeurlys is elektroniese afval, papier en verpakkingsmateriaal. 

Molewa het gesê die Suid-Afrikaanse regering is baie dankbaar teenoor die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) wat bereid was om die departement se voorstel vir ’n kleiner buffergebied rondom Mapungubwe goed te keur. 

Anglo Coal is het reeds 40 gate binne 5km van Mapungubwe gesink. Coal of Africa se omstrede Vele-myn is ook in die oorspronklike buffer gebied geleë. 

Hendrik Oosthuizen, projekbestuurder by Anglo American, het verlede jaar erken die mynhuis prospekteer binne die voorgestelde buffer gebied vir kookssteenkool. 

Unesco het die departement verlede jaar gewaarsku dat die buffergebied rondom Mapungubwe minstens 7 km moet wees. 

Die buffergebied is nou 104,000 ha groot. Dit was aanvanklik 237,000 ha.