Opleidingskolleges vir Onderwysers!

Die adjunkminister van Hoër Onderwys en Opleiding het toe waarlik ‘n “helder oomblik” gehad! Hy reken die regering moet eerder onderwysers by Kolleges oplei as by Universiteite.

So ‘n paar jaar gelede is Onderwyskolleges, ja u het reg gelees!, deur die ANC-regering afgeskaf.

Die Onderwyskolleges wat bv. deur die jare in Transvaal puik onderwysers opgelei het was :

     Die Heidelbergse Onderwyskollege;

     Die Goudstadse Onderwyskollege;

     Die (Normaal) Onderwyskollege van Pretoria;

     Die Potchefstroomse Onderwyskollege en

     The Johannesburg College of Education.( Wat natuurlik Engelse onderwysers opgelei het.

Later is die Onderwyskollege vir verdere Opleiding ook in Pretoria geopen. Hier kon ‘n onderwyser met ‘n diploma, inskryf vir ‘n twee jaar kursus in samewerking met die Universiteit van Suid-Afrika en dan na hierdie verdere Diploma in Onderwys, met die vakke as basis, verder studeer by UNISA om uiteindelik ‘n graad te verwerf.

Hierdie is maar net die kolleges in Transvaal en die band tussen kolleges en  Universiteite was ‘n onderlinge verhouding waarvolgens die Kolleges se Akademiese standaard deur hulle naaste Universiteit gemodereer was. Die onderlinge samewerking het gesorg vir ‘n behoorlike akademiese standaard van die Kolleges.

Die Heidelbergse Onderwyskollege is ongeveer teen die einde van die jare sestig gesluit is en toe in ‘n Militêre Basis omskep; die studente wat toe nog nie afgestudeer het nie, is oorgeplaas na die Goudstadse Onderwyskollege in Johannesburg.

Daar was maar altyd ‘n goedige dispuut oor watter studente die beste opgelei is. ‘n Verskil tussen Universiteite en Onderwyskolleges was dat die Onderwyskolleges aan langer tydperke vir praktiese onderwys blootgestel was. Dosente het tydens die praktiese onderwys lesse aangehoor en ge-evalueer en dit is alles saam gevoeg om die student volkome op te lei vir die taak wat vir hulle voorlê.

Onderwysers wat aan Kolleges afgestudeer het, het gewoonlik vir verdere studies aan Universiteite ingeskryf en ‘n menigte onderwysers het so na die verkryging van ‘n onderwysdiploma, ‘n graadkwalifikasie verwerf.

Mduduzi Manana, adjunkminister van hoër onderwys en opleiding, se “briljante voorstel” vir die opleiding van ‘n groter aantal onderwysers, is om die minste te sê, ‘n poging om die “wiel te herontwerp”.  Al die probleme wat hy uitlig om dringend aan aandag te skenk, was al voor 1994 ge-opper tydens hoofdevergaderings en onderwysseminare. Die tekort aan Wiskunde- en Wetenskaponderwysers, is so oud soos die berge aangesien studente met ‘n aanleg in daardie rigting, eerder in die privaatsektor hulle heil gaan soek. Verder dui die verskil in die klem van die huidige Onderwys teenoor Opvoedende Onderwys ook die onaanvaarbare studierigting van die huidige onderwysdepartement. Die onderwysers wat afgestudeer het om ‘n loopbaan as Opvoedende Onderwyser aan te pak, het ‘n dieper, ernstiger gesindheid teenoor die kinders waarmee hulle gaan werk. ‘n Ernstige probleem wat ook tans aan die orde van die dag is, is die gebrek aan dissipline en die beperkings wat aan onderwysers gestel word ten opsigte van die “leerders” se menseregte. Dit neig dan na ‘n situasie wat nie juis bevorderlik is vir goeie onderrig nie. ( Ons is wel deeglik bewus van heelwat blanke onderwysers wat nog steeds onderwys as ‘n roeping sien en nie net as nog ‘n werk nie.)

‘n Gedagte wat bly hinder, is die standaard van opleiding wat die adjunkminister gedagte het. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, meen dat die onderwyskolleges gekoppel moet wees aan universiteite maar met die voorwaarde dat daar buigsaamheid moet wees. Dit is hierdie buigsaamheid van bepaalde reëls, wat veroorsaak dat daar ‘n verslapping moontlik word en dit klink na die begin van ‘n algehele verslapping van standaarde. Ons het reeds met kommer kennis geneem van leerlinge uit staatskole, wat spog met sewe of meer onderskeidings, wat dan vraestelle om hulle gereedheid vir ‘n universiteitskursus, druip.

Oupa het altyd gesê; moenie met ‘n ding voeter wat werk nie!

Foto – Mduduzi Manana